Gedagte vir die dag: Ons ondeurgrondelike God

God-antwoord-nog-gebede

Foto: Reint Dykema.

Die Here is groot, alle lof kom Hom toe, sy grootheid is ondeurgrondelik. (Psalm 145:3)

Loof die Here, sy grootheid is ondeurgrondelik! Ek wil van dag net hierdie een woordjie onder jou aandag bring: ondeurgrondelik. Dit beteken onder andere ondeursigtig, onnaspeurlik, onverklaarbaar, geheimnisvol. Ons het verleer om by dié woord stil te raak, eerbiedig te buig in nederige aanbidding. Ons leef in ’n wêreld waar alles verklaar kan word. By feitlik elke item wat jy oor die toonbank koop, kry jy ’n volledige handleiding. Uiteindelik is alles verklaarbaar, uitmekaar-haalbaar. Daarom doen mense alles in hulle vermoë om die geesteswêreld ook te verklaar, deursigtig te maak. Dit is waarom boeke wat die tot nou toe geheimenisse probeer oopbreek soveel aanklank vind. Die sukses van The Da Vinci Code en boeke oor die hiernamaals het alles te make met mense se sug na volkome verstaan, die drang daarna om in beheer van sake te wees. Ook in beheer van God?

Maar dit is juis waaroor die lof aan God toekom: Hy is ondeurgrondelik! Hy is nie verklaarbaar nie. Hy is die Groot Onsienlike God wat Hom openbaar in sy wonderlike werke. Daarom loof ons Hom in ’n staat van aanbidding. Ons probeer Hom nie verstaan nie; ons erken Hom vir wie Hy is, en ons aanbid Hom met ontsag en dankbaarheid in ons harte.

In Job 11:7-9 word oor ons ondeurgrondelike God gepraat: “Kan jy begryp wie God werklik is? Kan jy die Almagtige ten volle verstaan? Dit is kennis wat hoër is as die hemele. Hoe kan jý daarby uitkom?”

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Dankie Here dat U steeds in beheer is niks kan U bevat nie . Ek kan niks verdien nie U guns en goedheid kom verniet. Lof is my offer. Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.