Gedagte vir die dag:  Ons plannetjies

woestyn_wind_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Genesis 12:10-20

Sê tog maar jy is my suster dat dit met my goed kan gaan oor jou, en my lewe deur jou toedoen gespaar word. (Genesis 12:13)

Genesis 12 is die begin van Abram (later Abraham) se storie. Dit is ’n mooi begin, wat egter ná nege verse dreig om lelik te ontspoor. Abram trek tot in die Suidland en toe selfs verder suid, tot in Egipte. En dit is dáár wat dit hom tref: Ek het ’n mooi vrou, en netnou raak die een of ander belustige Egiptenaar van my ontslae om haar in die hande te kry. Toe maak hy ’n plan.

Maar dinge loop sleg skeef – eers vir Sarai: Die Egiptenare het haar gou raakgesien. En voor jy kon sê “ek-vat-haar-omdat-ek-kán”, het die farao haar in sy paleis en word sy sy vrou.

En Abram? Met hom gaan dit so voorspoedig soos nooit te- vore nie. Die skrywer vertel van die rykdom wat in sy skoot val,  as beloning vir sy “suster” wat hy so goedgunstig aan die farao afgestaan het.

’n Mens wonder waar dit alles sou geëindig het as die Here, wat oorspronklik vir Abram geroep het, nie ingegryp het nie. Want dit is toe Hy wat die farao en sy mense met swaar plae tref. Totdat hulle twee en twee bymekaartel en agterkom waarom alles hulle skielik tref. “Wat het jy my aangedoen?” skree die groot man op Abram. “Vat haar en maak dat jy wegkom!” (v. 18-19). En so kom Abram en Sarai met hul lewe én al hul besittings daarvan af.

Sjoe. Só maklik laat die Here se mense die Here se goeie planne ontspoor. Dit vra bloot ’n tikkie vrees, ’n stukkie eie eer en ’n porsie gierigheid en siedaar: Die Here moet weer ingryp om te red wat daar te redde is.

Dankie, Here, dat U ook selfsugtige mense soos ek weer op u spoor bring.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae