Gedagte vir die dag: Ons Vader

Vrou_arms_uitgestrek_Reint_Dykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Hy seën almal wat Hom aanroep ryklik, want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. (Romeine 10:12–13)

Ons Vader – die aanhef, die kreet, die eerste woorde van die model­gebed. God het baie name, maar Jesus leer sy dissipels om Hom as Vader aan te spreek (lees Matteus 6:9–14).

‘Is daar ’n pa onder julle,’ vra Jesus, ‘wat as sy seun hom ’n vis vra, vir hom ’n slang sal gee in plaas van die vis? Of as hy ’n eier vra, vir hom ’n skerpioen sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra’ (Luk 11:11–13).

Ons kan maar met al ons behoeftes na Hom toe kom, ons kan vis of eiers of wat ons ook al nodig het, vra. Ons Hemelvader sal vir ons sorg omdat Hy ons liefhet, meer nog as enige aardse vader. Maar nes aardse vaders weet Hy wat goed is vir ons en wat nie. Hy wil ons ook aanmoedig om verder te dink as ons fisieke behoeftes. Hy wil graag met ons praat oor die gedagtes en be­hoeftes van ons harte. Hy wil ons seën met die Heilige Gees sodat ons tussen goed en kwaad kan onderskei.

Liewe Vader, ek wou soms dinge hê wat my aardse pa my nie gegee het nie. Vandag kan ek nie eens onthou wat dit was nie, maar ek onthou sy besorgdheid en sy belangstelling. Dit wat hy geestelik aan my toevertrou het, is meer as wat ek ooit kon verwag. So is u gawes aan ons, beter en meer as wat ons verdien.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Theuns ·

Drie Enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, hier aan die begin van n nuwe dag vra ons U beskerming en ons loof en prys U Vader! Amen.

treurgrond ·

Amen my Vader my Jesus Amen. Hou asseblief U hand oor my en my gesin vandag. My God. Lief vir U vir nou en vir altyd. Amen

Reinier ·

Ons Vader het baie aanspreektitels inderdaad, maar sy eie naam is JHWH, ofwel JEHOVAH

Lees Psalm 83:18, in party Bybels dit sal sê God se naam is HERE, maar HERE is ‘n titel, nie ‘n naam nie. Het jy vriende van wie jy nie hul werklike naam gebruik nie? Sê jy vir jou beste vriende dalk meneer of mevrou? Nee, ons almal het ‘n eie naam en vir ons God sal ons dit seker moet gebruik!

Psalm 83:18 King James Bible
That men may know that thou, whose name alone is JEHOVAH, art the most high over all the earth.

Daar is baie ander verse wat dit verklaar. God se naam word meer as 7000 maal in die Bybel gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.