Gedagte vir die dag: Ons Verdediger in die hemel

Argieffoto (Foto: James Chan/Pixabay)

Selfs nou is my getuie in die hemel. My verdediger is daarbo. (Job 16:19)

Job se hele lewe het uitmekaargeval op ’n manier wat ons skaars vir ons kan voorstel, en sy vriende se enigste reaksie was om te wonder wat Job gedoen het om hierdie straf te verdien.  Hulle siening was dat God regverdig is; daarom gee Hy aan ons wat ons verdien.  As Job swaarkry, moet hy gaan sit en dink oor watter sonde hy gedoen het waaroor hy nie berou getoon het nie en dan sy verhouding met God herstel.

Maar Job het van beter geweet. Hy het op die karakter en goedheid van God vertrou, en hy het homself op die genade van God verlaat.  Al het hy nie die hoekom en hoe van sy lyding verstaan nie, het Job ten volle vertrou dat God sy verdediger én sy regter is.  Hy het geglo dat hy eendag onskuldig verklaar sou word.

As Job, wat baie jare voor Jesus geleef het, op God vertrou het om sy verdediger te wees, hoeveel te meer kan ons nie op Hom vertrou nie? Anders as Job, weet ons “Christus Jesus is tog die Een wat vir ons gesterf het, wat boonop ook opgestaan het, wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit” (Rom. 8:34).  Jesus tree vir ons in, verseker ons van ons plek as geliefde en vrygespreekte kinders van God en bring ons daaglikse behoeftes voor ons liefdevolle hemelse Vader.   Of jou lewe aan skerwe lê soos Job s’n en of dit goed gaan met jou, jou enigste hoop is om jouself aan Jesus, jou Verdediger in die hemel, toe te vertrou.   Hy is die enigste Een wat jou met God kan versoen en vir jou ware vrede kan gee wat jou deur die goeie én die slegte dae sal dra.

Daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen. Hy is die mens Christus Jesus. – 1 Timoteus 2:5

Bron: In die skadu van die Allerhoogste deur Nancy Taylor & Chris Johnsen
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here Jesus dat U versoening vir my moontlik gemaak het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.