Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U. (Ps 33:20-22)
Psalm 33 is ’n jubelende loflied tot eer van die Here. Luister net hoe begin die psalm: “Jubel in die Here, regverdiges, sing ’n loflied, opregtes! Loof die Here met die lier, speel vir Hom op die harp! Sing vir Hom ’n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit!”
Behoort dit nie die taal van elke gelowige te wees nie? Hoe min ervaar ons daarvan in die kerk van die Here! Ons staar ons blind teen die negatiewe dinge en sing saam met die ongelowiges in die koor van ontevredenheid. Van opregte en deurleefde lof en aanbidding kom daar so min in ons lewens tereg.
Die digter gee verder in die psalm sy redes waarom hy die Here loof en prys. Hy sê ’n mens kan die Here maar op sy woord neem, as die Here praat, gebeur dinge. En wat meer is: die hele wêreld is vol van die Here se troue liefde! Sien ons dit en ervaar ons dit? Of word ons eerder oorweldig deur die afskuwelike werke van die Bose? Die Here se troue liefde kom tot openbaring deur sy kinders. Waar die kerk van die Here lewe, daar word die liefde van die Here ’n sigbare, tasbare werklikheid.
Die psalm sluit af met die treffende belydenis en gebed wat hierbo aangehaal is. Die sleutelwoorde is “vertroue” en “liefde”. Ons vertrou op die Here en daarom is ons harte bly. Ons hou aan die Here vas en weet dat Hy ons vashou. En daarom bid ons maar net weer: Here, hou tog u liefde oor ons wat op U vertrou.
Hou u liefde oor ons, Here, ons vertrou op U.