Gedagte vir die dag: Onselfsugtig

mense-op-strand-sonsondergang.jpgElkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie, inteendeel. (Rom 15:2-3)

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. (Fil 2:3-4)

Miskien moes hierdie eienskap van Jesus heel eerste genoem word. So dikwels het ons al gesien dat selfsug aan die wortel van feitlik elke sonde lê. Dit is die lieflingsonde van die eie ek. Noem maar op: hoogmoed, eiebelang, ongehoorsaamheid, eiegeregtigheid en nog al die ander self-sondes het hulle wortel in selfsug. Die sug, die drang om jouself te laat geld.

Vir Jesus het dit nooit oor Homself gegaan nie. Die oortuigendste bewys van sy onselfsugtigheid kry ons heel aan die begin van sy bediening wanneer Satan Hom in die woestyn versoek. Elkeen van die versoekings het op Jesus se selfhandhawing aanspraak gemaak. As Hy aan enigeen van die versoekings sou toegee, sou Hy Homself as die superheerser bewys het. Hy het oor die mag beskik. Hy moes net vir Satan “ja” sê. Maar Hy het nie. Sy fokus was op ’n mensdom in nood gerig vir wie Hy Homself tot die dood toe moes offer.

Dit is nie nodig om baie te sê oor ons geneigdheid tot selfsug nie. Dis aangebore, ’n mensding. Maar as weergebore kinders van God is dit die een ding waarteen ons met alle mag moet stry.

In Filippense 2 maan Paulus ons om mekaar se belange bo ons eie te reken en na mekaar om te sien. En dit kan ’n mens net doen wanneer jy bereid is om onselfsugtig en opofferend na ander uit te reik – net soos Jesus.

Moenie toelaat dat selfsug die beeld van God in jou lewe verdonker nie.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.