Gedagte vir die dag:  Onsinnig

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: Christianheadlines.com

Lees Lukas 24:1-12

Die vroue het groot geskrik en met hulle gesig na die grond toe gebuig. Toe sê die manne vir hulle: “Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie. Hy is uit die dood opgewek. Onthou hoe Hy met julle gepraat het toe Hy nog in Galilea was…” (Lukas 24:5-6)

Paastyd bied gelowiges ruim geleentheid om oor die destydse paasgebeure na te dink. Dit is goed so, want dit is ons grootste fees. Dit herdenk deurslaggewende gebeure wat ons geloofslewe aan die hart raak. Gaan lees gerus weer wat Paulus hieroor aan die Korintiërs skryf (vgl. 1 Kor 15:12-58).

En lees maar hierdie Lukasepisode deeglik deur. Sien die vroue se paniek. Kyk hoe hulle die boodskap wat hulle ontvang het aan die apostels gaan oordra. En kyk tog hoe hardloop Petrus (tipies hý) na die graf om self te sien. Hoor asseblief ook wat Lukas oor die apostels sê: Die vroue se storie het vir hulle na onsin geklink. Lawwe vroumenspraatjies.

Sou jý hulle geglo het, destyds? Sou jy dalk soos Petrus rieme neergelê het om te gaan seker maak? Miskien bloot agterna gedrentel het, net ingeval daar tog ’n verklaring vir hierdie onsinnigheid is?

Glo jy hulle vandag, steeds? Wat sê jy vir daardie vroue op hierdie dag, twee dae ná ’n viering in die tweede millennium ná hul uitasem berig? Deesdae lees jy (soms teen jou sin, maar tóg) hoe ander mense – slim mense, mense wat jou taal praat, mense wat soos jy grootgeword het – skryf en lag en sê: Onsin!

Wat sê jy vir húlle?

’n Vraag: Hoekom moet jy iets sê? Dit is tog volkome onsinnig om Jesus se opstanding uit die dood te probeer verklaar of te verdedig. Jy kan dit bloot vier – of nie. Jy kan net daaroor sing – of nie. Jy kan jou slegs daaroor verwonder – of nie. Jy kan jou opvatting hieroor aan ander gaan vertel – of nie.

Jou reaksie gaan niks aan die betekenis van die opstanding verander nie. God is groter as geloof én ongeloof, ook joune.

Opgestane Here! Soos Tomas kan ek ook net sê: “My Here en my God!”

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.