Gedagte vir die dag: Ontdek God se doel vir jou lewe

Berg_wolke_pad

Foto: Reint Dykema

Lees: Romeine 11:33-36

God is die bron van alles. Alles bestaan deur sy krag, en alles is op Hom gerig. Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. (Romeine 11:36, NLV)

Rick Warren skryf in sy boek Die doelgerigte lewe dat ’n doelbewuste lewe die enigste manier is om werklik te lewe; die res is blote bestaan. God het vir elke mens ’n spesifieke doel; daardie taak waarvoor Hy jou spesifiek geskape het. Hierdie lewensdoel kan nooit verander nie; dit is uniek aan elke mens en dit bly kons tant.

Jou persoonlike lewensdoel behoort die verskillende maniere te weerspieël waarop jy God in jou lewe gaan verheerlik, asook die spesifieke rede waarom God jou gemaak het. Dit behoort vir jou uit te spel wat jy met jou tyd, lewe en geld gaan doen, en impliseer ook wat jy nié behoort te doen nie, skryf Warren (Die doelgerigte lewe). Gewoonlik hou hierdie lewensdoel verband met jou spesifieke gawes wat jy van God ontvang het. Wat dink jy kan jy die beste doen sodat God se koninkryk uitgebrei kan word? Waarvan hou jy die meeste? Wat sal jy die graagste wil doen om God in jou lewe te verheerlik?

Dit is altyd sleg om jou doel te mis – dit maak ’n mens onvergenoegd en ontevrede. As jy weet dat jy God se doel met jou lewe uitleef – dat jy jou spesifieke gawes en talente gebruik om Hom te dien en te eer – sal dit vir jou ’n vreugde wees om aan Hom te behoort en om daardie spesifieke dinge te ontdek en te doen wat in ooreenstemming met sy wil vir jou lewe is.

Hemelse Vader, ek bid dat U my vanjaar sal help om u doel vir my lewe te ontdek. Maak my gewillig om daardie doel uit te leef. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.