Gedagte vir die dag: Ontevredenheid

Hoop_sonsopkoms_Wolke_Reint_Dykema1.jpg

Foto: Reint Dykema

Die godsdiens is ’n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie. As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede wees. (1 Tim 6:6-8)

Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Heb 13:5)

Daar is mense wat letterlik met niks tevrede is nie. Hulle kla oor alles en almal. Die wêreld skuld hulle. Hulle word onregverdig behandel. Die kos by die restaurant is nooit na hulle smaak nie. Dokters is redelik dom, én moenie vra wat dink hulle van die regstelsel en die regering nie. Dit is natuurlik ’n baie radikale prentjie. Almal is darem nie heeltemal so erg ontevrede nie. Wat die mense wat met niks en niemand tevrede is nie, nie besef nie is dat niemand met hulle tevrede is nie. Dis regtig ’n pyn om met sulke mense deurmekaar te raak.

Maar wat nou van my en jou? Nee, genugtig, ons is darem nie so erg nie! Maar is ons nie ook maar by tye ontevrede nie? Dink nou goed na oor die dinge waaroor jy soms ontevrede is. Presies waaroor gaan dit? Is dit dalk omdat jy meen jy word swak behandel, jy kry nie wat jou toekom nie? Is die motief dalk eiebelang en miskien ook selfsug?

Nee, natuurlik moet ’n mens nie met swak diens tevrede wees nie. Maar pas op net vir ’n ontevrede houding. Een van die grondoorsake van ontevredenheid is die onderskatting van genade. As ’n mens besef hoe groot God se genade elke dag van jou lewe is, is daar nouliks rede vir ontevredenheid. Wees in alle omstandighede dankbaar en loof die Here vir elke onverdiende gawe.

Dank die Here vir wat jy het, en wees tevrede.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.