Gedagte vir die dag: Ontfermer

man_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Matteus 20:29-34

Die mense het met hulle geraas en gesê hulle moet stilbly, maar hulle het al hoe harder geroep: “Here, Seun van Dawid, ontferm U tog oor ons!”. (Matteus 20:31)

Desperate mense laat hulle nie stilmaak nie. As hulle vermoed dat iemand dalk twee keer in hul rigting sal kyk, sal hulle roep en roep totdat hulle reaksie kry.

Vir die twee blindes langs die pad buite Jerigo was dit ’n kans wat hulle nie kon laat verbygaan nie. En hulle het nie, ten spyte van die fatsoenlikes se ontsteltenis. Hulle bly roep na Hom, hul grootste Kans, totdat Hy hoor en sy reis onderbreek en by hulle vertoef.

Al wat hulle by Hom wou hê, is: “Here, dat ons oë oopgaan”  (v. 33). Eenvoudig. Voor die hand liggend.

Toe voldoen Hy aan hulle versoek. Dit is so logies, só wat ons van Jesus verwag. Dat Hy hulle jammer sou kry en hulle genees. Tot vandag toe is dit ons, ook die gesondes onder ons, se begeerte: dat Jesus ons moet raaksien, al kan óns Hom nie sien nie. Dat Hy by ons vertoef, al is ons, volgens dié wat hulle na bewering naby Hom bevind, nie eintlik daarop geregtig nie.

Ons enigste troos is dat Hy dit wel doen. Nie omdat ons hard roep of omdat ons siek of sukkelend is nie, maar omdat ons aan Hom behoort.

Ons kan selfs bykomende troos daaruit put dat Hy gereeld die- gene ignoreer wat Hom van ons af wil wegkeer. Hy het dit gedoen toe sy vername volgelinge die mammas wou verhinder om hul kinders na Hom toe te bring (vgl. Matt 19:13-15). En toe die einste geïrriteerde dissipels Hom gevra het om die neulende Kanaänitiese vrou van hulle af weg te jaag (vgl. Matt 15:21-28).

Ontferm U elke dag oor my, Here, dat ek beter kan sien wie U is.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae