Gedagte vir die dag: Ontferming

hand_stiltetyd_jackson-david_pixabay.jpg

Foto: Jackson David, pixabay.com

Lees Psalm 123

Soos die oë van ’n slaaf gerig is op die hand van sy eienaar, soos die oë van ’n slavin gerig is op die hand van haar eienares, so is ons oë gerig op die Here ons God, totdat Hy Hom oor ons ontferm. (Psalm 123:2)

Ons kan die lewe beswaarlik sonder ontferming oorleef. Wan- neer Jesus eeue nadat hierdie psalm geskryf is oor die groot gebod uitwei, vertel Hy ’n storie oor ’n vreemdeling wat medelye aan ’n erg beseerde mens bewys het. En, sê Hy aan die kerkmens wat Hom daarna gevra het: “Gaan maak jy ook so” (Luk 10:37).

Dit is waarskynlik alle mense se vernaamste begeerte: ontferming. En dan in die woordeboekbetekenis daarvan: medelye hê. Saam voel. Saam huil. Gelowiges weet van altyd af dat dit ’n wesens- kenmerk van hul geloof is om saam met ander te lag en saam met hulle te huil (vgl. Rom 12:15).

En, nee, dit is nie moeilik om dit reg te kry nie (hoewel daar sommige is wat sal sê dit is nogal moeilik om altyd saam te lag …). Maar medelye – simpatie, empatie, ja, ontferming – kom vir die meeste gelowiges maklik. Wanneer iemand anders opsigtelik swaar kry, prikkel dit jou geheue (en straks ook jou gewete) en onthou jy gou hoe swaar jy al gekry het. Ons verstaan ook goed dat ons ontferming aangeleerde gedrag is. Dat daar Iemand is wat Hom nog altyd oor ons ontferm het en wat ons geleer het om te maak soos Hy ons geleer het. Só: “As Ek … dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was” (Joh 13:14).

Ons weet, soos die psalmdigter, hoe stip ons die Goddelike hande dophou. Hoe dit na ons toe uitgestrek word. Hoe dit om ons vou. Hoe dit ons leer en na wie toe dit ons wys.

O  Groot Ontfermer, hou my  styf vas!

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Groot Ontfermer dat ek weet en verstaan en vertrou dat U my altyd vashou in U Kosbare Hande.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.