Gedagte vir die dag: Onthou!

vrou_bybel_bid_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Spreuke 2:9-15

As jy aanneem wat ek jou sê, sal jy insig kry in wat regverdig en reg en billik is en sal jy op die goeie pad bly. (Spreuke 2:9)

Die ou Spreukedigter is vol wysheid, en hy vertel graag aan sy leerlinge hoe noodsaaklik dit is om met oop oë deur die lewe te gaan. Deurentyd kry die hedendaagse leser die indruk dat hierdie raad nie blote slimmigheid is nie, en beslis nie boekgeleerdheid nie. Nee, hierdie wysgeer het sy kennis oor die lewe in die lewe self opgedoen. Hy weet waarvan hy praat. Hy was self daar.

Hoor dan met hoeveel insig (deur eerstehandse kennis gekweek?) hy praat oor die “verkeerde pad”, oor diegene wat “verkeerde dinge verkondig” (v. 12): Hulle verheug hulle daarin om slegte dinge te doen. Hulle verlekker hulle in ander se wandade. Die feit dat hul paaie krom is en hul koers verkeerd, is geensins vir hulle ’n probleem nie.

Handboekvoorbeelde, nie waar nie? Die gedragswetenskaplikes sal saamstem. Daardie lekkerkry oor misdade, hul eie én ander mense s’n …

Maar Spreuke is nie ’n handboek vol akademiese insig nie; dit is ’n lewensboek, daarop gerig om gelowiges met hul keuses te help. Om hulle te help om uit foute te leer, hul eie en ander s’n. Die pleitrede is deurgaans iets soos: “Moet tog nie vergeet wat ek jou leer nie, my kind!”

Dit is dan sekerlik die wysste ding wat ons kan doen: om te leer onthou. Om ons te láát leer om te onthou hoe goed die Here vir ons is. Hoe Hy ons van altyd af, juis ook deur ander mense, leer wat die regte koers is. Hoe goed dit vir ons sal wees om daardie roete te volg.

O, dat ons tog nie halfpad op ons lewensreis vergeet waar ons vandaan kom en waarheen ons op pad is nie …

Leer my, Heer, u regte weë – en laat my dit onthou!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here vir elke dag se genade…dit bly vir my wonderbaar….Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.