Gedagte vir die dag: Onthou om te onthou

kruis_bybel_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Sê vir die Israeliete hulle moet aan die some van hulle klere klossies vaswerk … Hulle moet ’n blou toutjie aan die hoekklossies vaswerk. As julle die klossies sien, moet julle dink aan al my gebooie sodat julle dit onderhou en nie die sondige begeertes van julle hart en oë navolg nie. (Numeri 15:38-39)

Dit het al baie gebeur dat ek in ’n vergadering sit en skielik onthou om iemand te bel, ’n brood te koop of iets vir die kinders te kry. Omrede ek nie die vergadering wil ontwrig nie, trek ek dan sommer vinnig ’n kruisie op my hand om my aan die taak te herinner. Dié herinneringstegniek werk uitstekend vir my. Ek is seker jy het ook een of ander tegniek om jou te help onthou.

In die Ou-Testamentiese tyd het die Israeliete van ’n tegniek gebruik gemaak om hulle daaraan te herinner om God se gebooie te onderhou. Wanneer die Israeliete ’n blou toutjie aan die hoekklossies van hulle gebedskleed sien, het dit hulle daaraan laat dink om nie die begeertes van hulle hart en oë na te volg nie, maar om aan God gehoorsaam te wees. Dit het hulle help fokus om nie bewustelik en moedswillig te sondig nie. Die klossies het hulle gehelp om die aandag op God toe te spits en aan Hom te dink en Hom met hul optrede te eer – die lewende God wat sy beloftes nakom. Verder het die interessante voorskrifte hulle daarvan bewus gemaak dat God self tussen hulle woon en dat hulle met hulle hele lewe aan Hom toegewy moes wees.

Vandag dra miljoene Christene kruisies om die nek om ons te herinner aan dít wat Christus vir ons gedoen het. Hy het sy lewe vir ons aan die kruis gegee sodat ons die ewige lewe mag beërwe. Die kruis herinner ons daaraan om elke dag uit Christus se verlossingswerk te lewe.

Dalk is jy nie een vir kruisies dra nie, of miskien krap dit jou om dat soveel mense die unieke verlossingsimbool misbruik en dit dra, selfs al is hulle nie kind van God nie. Vra dan vir God dat Hy jou help onthou om te onthou jou lewe moet aan Hom toegewy wees. Ja, elke dag gaan met versoekings gepaard, ek en jy het in ons die potensiaal om vir enige versoeking “nee” te sê. Onthou vir God.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Skatymir ·

Dink nou mooi, het hierdie onheilige gebruike van hierdie midde ooste mense enigsins betekenis vir ons. Die bybel is die mees verkoopte boek, dit is ook die mees geweldadige boek, gaan lees maar, dit is moord en doodslag van die begin tot die einde. Dan wonder die mense hoekom is daar soveel geweld in die wêreld.

Nederig ·

Vader Nederig vra ek vergewe ons sonde en wees ons genadig asseblief.

Sandra van Heerden ·

Kan ons nie begin om self iets te dra om ons elke dag te herinner aan Jesus en die Woord (as jy nie ‘n kruisie om jou nek wil dra nie)? Bv ‘n blou strikkie? Almal weet die pienk strikkie beteken iets, maar wat as ons ‘n blou een begin dra en mekaar herinner aan God se woord en Sy gebooie? Ons sal dan mekaar begin sien deur Sy oë en so kan ons verandering bring in ons land.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.