Die getuies het hulle klere neergesit by ’n jongman met die naam Saulus. (Handelinge 7:58)
Ook Saulus het hierdie moord goedgekeur (Hand. 8:1).
Anselmus van Canterbury, gevra oor die gedrag van sommige priesters, het gesê: “Priesters is maar soos mense, en mense is soos mense, sommige net meer so.” Saulus was so ’n jong geleerde Fariseër: wanneer hy mense vervolg het, was hy ’n uiterste vervolger en bloedsoeker. Wanneer hy sterk was, was hy sterker as ander. Wanneer hy nederig was, was hy nederiger as ander. Wanneer hy gebuig het, het hy laer gebuig as ander. Hy, die getuie van Stefanus se dood, sou die groot getuie van Jesus se opstanding word, die een wat die evangelie sou “interpreteer”, die diepte van die betekenis daarvan. God se man. Hy het gehoor wat Stefanus gesê het, en dit moes hom geskud het. Die kerkvader Origenes het gesê: “As Stefanus nie uitgeroep het nie, sou die kerk nie vir Paulus gehad het nie.”
“Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit” (8:3). ’n Vurige man, op pad na grootheid as geleerde en yweraar vir die wet en tradisie. En op pad na selfvernietiging. Juis hom sou God voorkeer.
Eeue later sou Calvyn deur Genève vlug na Italië. In Genève het God sy koets gekeer. Daar het Farel met hom gepraat en gesê: “Die Here wil jou hier gebruik.” Calvyn het gebly en God hét hom bemeester; humeur, oorywer en al! Dis ’n deurlopende draad in die Bybel, hoe die Here op die regte oomblik die regte mens op die regte plek gered het. En dan werk Hy dikwels op vreemde maniere. Hy trek soms ’n reguit lyn met ’n baie krom stok. Hy sien in Saulus wat Hy soek. Hy sien in jou en my genoeg om ons deur sy Teenwoordigheid te vereer.
Dankie Here dat U die Wonderwerker is en dat U my ook in my sonde kom soek het..Amen