Gedagte vir die dag:  Ontsnap die gedrang

Kerk_ou-gebou_Stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek sien geweld en oproer in die stad; dag en nag maal hulle rond op sy mure; daarbinne is onreg en onheil. (Psalm 55:10-11)

Dawid sien ’n dreigende en onheilspellende gemaal van mense in die stad Jerusalem. Dit verwys waarskynlik na Absalom wat ’n rebellie teen sy pa gelei het. Op ’n stadium was die hele Jerusalem in oproer en wanorde – Dawid kon niemand meer vertrou nie, want selfs sy eie vriende of familie kon ’n spioen of verraaier wees. Uiteindelik moes hy uit die stad vlug.

Kom ons sê na aanleiding daarvan die volgende: Ons leef vandag in stede waarin miljoene woon. Gesiglose en onbekende massas stroom daagliks by ons verby. Die gedrang op die sypaadjies is onophoudelik, die stringe karre in die strate nimmereindigend. Die gemaal en gedrang kan egter ons energie tap. Om dag en nag mense om jou te hê – en met hul behoeftes gekonfronteer te word – is uitputtend. Dit kan alles te veel raak. Ontsnap in hemelsnaam die gemaal en kom dikwels eenkant, op jou eie. Sonder jou af. Herlaai. Kry nuwe perspektief op die mens en die stad – en jou plek daarin – by die Here.

Here Jesus, ek sien so uit om eenkant te kom, om stil te word met U – alleen, net ons. Amen.

Bron: Hou vas aan die Hoop deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.