Gedagte vir die dag: Ontvang die Gees 

Bos_Pad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?” “Ons het nog nie eens gehoor of die Heilige Gees al gekom het nie,” het hulle geantwoord. (Hand 19:2)         

Ons woon in KwaZulu-Natal en die Zoeloes het so ’n mooi taal. Hulle noem die Heilige Gees Umoya Ngcwele; dit beteken die Gees, die krag of die wind, binne-in ons. Jy het die Heilige Gees ontvang toe jy in Jesus Christus begin glo het, maar ek wil jou vandag aanmoedig: Soek die Heilige Gees. Vra Hom om jou elke dag met sy krag te vul. Sy krag is beskikbaar vir almal wat vra.

Jesus het vir die dissipels gesê hulle moet in Jerusalem wag vir die krag van die Heilige Gees om oor hulle neer te daal (Hand 1:4). Hy het dit gedoen omdat Hy geweet het hulle sou nie sonder die Gees volgens sy wil kon leef nie. Ons kan nie sonder hierdie krag leef nie, net soos die windpomp op my plaas nie sonder die krag van die wind kan draai en water pomp nie. Sonder die Heilige Gees in ons lewe is ons soos ’n windpomp wat stilstaan. Ons bereik niks nie. Wanneer ons die krag van die Heilige Gees vra, kan ons groot dinge vir God doen. Niks sal vir ons te moeilik wees wanneer ons die krag van die Gees in ons het nie.

Voel jy vandag leweloos? Voel jy ontoereikend? Is jy gevul met vrees? Vra jou Vader om vir jou sy Gees te gee. Vra die Gees om vandag oor jou te kom, net daar waar jy is. Praat met Hom. Sak op jou knieë neer en sê: “Heilige Gees, vul my asseblief met u krag!” Hy sal jou gebed beantwoord.

Heilige Gees van God, vul my asseblief met u krag. Amen

Bron: Aartappelgeloof vir elke dag deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chenay ·

Is amazing om te weet hoe Groot Die Here is en hoe baie Hy vir ons lief is. Hoe Hy daar is vir ons wanneer ons op Hom roep… Hoe Die Here so graag deel van ons elk se lewe wil wees… Dankie Here!!!! Abba Vader daar is GEEN ander soos U!!!! Vul ons met die Heilige Gees Here. Daagliks… Amen….

Valerie Pretorius ·

Hoe groot is God se liefde en Genade nie vir ons elke dag nie.
Gal 5:16-6-10
Maar ek se: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie..
Abba Vader vul ons asb met U Heilige Gees vandag more altyd…Amen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.