Gedagte vir die dag: Onverdiende genade

vrou_sonsondergang_dink_see_staar.jpg

Foto: stringsofsoulfulness.com

Lees: Jesaja 55:6-11

My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes. (Jesaja 55:8-9)

Ons word van kleins af groot met die veronderstelling dat ons die dinge in die lewe waarna ons streef, moet verdien. Niemand gaan ’n paar onderskeidings in matriek kry as hy nie daarvoor geleer het nie; ons gaan ook nie fiks bly as ons nie gereeld oefen of rietskraal bly as ons hope vetterige kitskos verorber nie. As jy bevordering by jou werk wil kry, sal jy bereid moet wees om ekstra ure in te sit. Die wêreld leer ons ’n mens kry wat jy verdien.

Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd waarby ons gis ter stilgestaan het, wil juis die begrip by ons tuisbring dat God se genade vir mense totaal onverdiend is. Dit klink nie net vir ons vreemd nie, maar selfs onregverdig! Dit is mos nie reg dat mense wat die hele dag hard in die warm son gewerk het presies dieselfde betaal word as dié wat net ’n paar uur gewerk het nie. Maar dis hoe God se genade werk. Hy laat reën oor regverdiges en onregverdiges, leer die Bybel ons. Sy gedagtes is verhewe bo ons s’n, ons kan dus nie verwag om Hom te begryp nie. Al wat jy van genade hoef te weet, is dat jy daarop aanspraak kan maak bloot deur in Jesus te glo. Aanvaar daardie genade – Hy wag reeds om dit oor jou uit te stort!

Here, dit klink nie vir my reg dat u genade myne is bloot deur my geloof in U nie. Maar ek wil nou daarop aanspraak maak en dit vir my neem. Baie dankie daarvoor! Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elgeraine ·

Here, dankie vir U daaglikse genade, dis groot en wonderlik, maar ek voel ek verdien dit nle altyd nie, want ek is n sondige mens. U gee in oorvloed! Dankie Heer

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.