Gedagte vir die dag: Onverdiende guns

Foto: pixabay.com

Die Here het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.  (2 Korintiërs 12:9)

Die definisie van genade is onverdiende guns en goedertierenheid. Paulus sê in vers 10: “Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.”  Paulus het geleer wanneer hy swak is, is hy sterk.

As ’n jong man sterk en op die piek van manhaftigheid is of ’n atleet blink uit op die veld, is dit dikwels vir hulle moeilik om die konsep van krag in swakheid te verstaan. Fisiese swakheid is gewoonlik ver verwyderd van hulle realiteit, en tog kan dit hulle enige tyd tref. Ons praat nie net van fisiese krag en swakheid nie, maar ook van geestelike krag en swakheid. Dis moontlik om fisies swak, en geestelik sterk te wees. Die teenoorgestelde is ook waar. As Christene, moet ons op ons hoede wees vir geestelike swakheid. Selfs wanneer ons deur beproewings gaan, moet ons geestelik sterk bly.

Ons almal, soos Paulus, moes al tye van beproewing verduur. In 2  Korintiërs 11:23-29 lys Paulus die verskillende beproewings wat hy ter wille van die evangelie verduur het:  “In arbeid oorvloediger, in slae bo die maat, in gevangenskappe baie meer, in doodsgevare dikwels. Vyf  maal  het  ek  van  die  Jode ontvang veertig houe op een na. Drie maal is ek met stokke geslaan, een maal is ek gestenig, drie maal het ek skipbreuk gely, ’n nag en ’n dag het ek op die diep water deurgebring  –  dikwels op reis, in gevare van riviere, in gevare van rowers, in gevare van my volk, in gevare van die heidene, in gevare in die stad, in gevare in die woestyn, in gevare op see, in gevare onder valse broeders; in arbeid en moeite, in slapelose nagte dikwels, in honger en dors, dikwels sonder ete, in koue  en  naaktheid.  Behalwe  dit  alles  my  daaglikse  bekommernis, die sorg vir al die gemeentes. Wie is swak en ek is nie swak nie? Aan wie word ’n struikelblok in die weg gelê en ek is nie aan die brand nie?”

My Vader, ek staan verstom oor die verandering wat U in Paulus se lewe bewerkstellig het. Ek bid dat U my ook sal verander. Ek weet dat ek wegskram van die proses wat nodig is vir verandering. Ek besef dat Paulus slegs die beproewings kon verduur omdat hy Jesus so liefgehad het. Help my om daardie selfde liefde te hê.  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Here vandag is ek kragteloos en swak versterk my lam knie …..in Jesus Naam

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.