Gedagte vir die dag:  Onvermydelik

meer_man_sonsondergang_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 17:1-4

“Dit is onvermydelik dat daar dinge kom wat mense laat struikel. Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is”. (Lukas 17:1)

Bekende Jesusuitsprake in ’n effens anderster baadjie: Die waarskuwing om nie “een van hierdie kleintjies” (v. 2) te laat struikel nie, want ’n seegraf met ’n groot klip om die nek is dan jou voorland. O, en dan die oorvloedige vergifnis.

Opvallend, dus, die effense verskille. Dié dinge wat Lukas gehoor het en wat ons nie by Matteus en Markus verneem nie. Soos die “onvermydelik” in vers 1.

Jesus verkondig nie ’n aardskuddende waarheid nie; enigiemand wat maar ’n bietjie gelewe het, sal weet hoe geneig mense soos ons is om te struikel. Dit is nie dat jy uit jou pad hoef te gaan om sulke struikelblokke teë te kom nie; hulle meld hulle sommer self aan, hulle doem voor jou op. En dikwels wanneer jy dit skaars verwag of die minste daarop voorbereid is.

Jesus se opmerking oor hierdie vanselfsprekendheid lei tot sy waarskuwing aan hulle wat daarvoor verantwoordelik is. Aan dié wat kleintjies op so ’n manier laat val. Hiér flits die rooi ligte, want ons weet reeds wie Jesus met “kleintjies” bedoel: nie (net) kinders nie, maar almal wat weerloos is teen gemene aanslae, wat uit- gelewer is ander se deernis. Hulle is sonder twyfel onder God se sorg. En wanneer iemand hulle pootjie of dwarsboom, word God se woede losgelaat.

Dit is seker ook dié dat die voorskrif oor vergifnis hierna volg. En dalk is dit aan die kleintjies gerig, sodat hulle die néérkykers, die struikelbloklêers, sewentig maal sewe keer sal vergewe.

Doen dit maar, julle kleintjies. Vergewe hulle. God self sal, onvermydelik, oor hulle oordeel.

Ek is steeds u kindjie klein, Here Jesus. Maak my hartjie rein!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie Here vir al U genade en seëninge. Amen!

Susanna ·

Here hoeveel keer het ek gestruikel?! U was altyd daar om my op te help! Baie dankie Here vir U onvoorwaardelike liefde!

OWO ·

Die effense verskille wat die skrywer noem in Lukas is maar een voorbeeld in die sinoptiese verskille wat tussen die drie sinoptiese Evangelies voorkom nl Matteus,Markus,Lukas.Lukas vertel sy Evangelie byvoorbeeld vir ‘n Griekse heiden,en wil dus aantoon dat Jesus vir alle mense gekom het,en daarom teruggaan tot by Adam.Matteus skryf vir Jode om hulle te oortuig dat Jesus hulle Messias is,en gaan terug net tot by Abraham wat hulle stamvader is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.