Gedagte vir die dag: Onverstaanbare gelykenisse?

hand_veld_son_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels. (Lukas 8:10)

Jesus het dikwels gelykenisse vertel. Dit was simboliese vertellings met beelde wat die hoorder sou verstaan, maar gelaai was met ’n boodskap uit die hart van God. Nou maak Jesus ’n interessante uitspraak in Lukas 8:10: “God het dit aan julle gegee om die geheime van sy koningsheerskappy te verstaan. Maar vir buitestanders is die gelykenisse raaisels. ‘Hulle sien wat Ek doen, maar eintlik sien hulle nie; hulle hoor wat Ek sê, maar hulle verstaan nie.’” Hierdie is ’n verwysing na Jesaja 6:9-10.

Wat beteken dit as Hy verwys na mense wat kyk en nie kan sien nie?

Jesus sê dat dié wat na Hom luister en sy woorde aanvaar, en in Hom as die gestuurde van God die Vader glo, die geheime van die koninkryk sal verstaan. Die Here sluit koninkryksdinge vir hulle oop sodat hulle dit kan sien en insig daarin kan kry. Hulle verstand word verlig, net omdat hulle glo.

Maar die ander wat Jesus hoor praat, maar Hom en sy woorde verwerp, sal weens hulle ongeloof nooit in die geheime van die koninkryk kan insien nie. Hulle hoor hierdie gelykenisse, maar dit is al wat hulle hoor. Net ’n storie, ’n mooi verhaal, maar die dieper betekenis verstaan hulle glad nie. Omdat hulle God se wonderlike geleentheid om insig te hê in koninkryksdinge nie aanvaar het nie, is die resultaat dat God hulle hart verder verhard. Hy verhard hulle wat hulleself verhard het.

Dit is gevaarlik om die Woord van God in die wind te slaan. Vir dié wat nie in geloof na die Here toe kom nie, bly sy woorde en gelykenisse dwaasheid. Mooi stories sonder betekenis. Vir dié wat egter in geloof na Hom toe kom, sluit Hy die geheime van die koninkryk oop.

Bron: Jesus se woorde vir elke dag deur Jan de Wet
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here dat u Heilige Gees my leer en lei in U Woord…..Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.