Gedagte vir die dag: Onvoorwaardelike liefde

God

Argieffoto.

Lees: Romeine 5:8-11

God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word. (Romeine 5:8, 10)

Tydens ’n Britse konferensie waartydens verskillende gelowe met mekaar vergelyk is, het ’n groep teoloë geredeneer oor watter eienskap uniek aan die Christelike geloof is. Ander gelowe het soortgelyke stories oor gode wat in menslike vorm verskyn het en daar is selfs ook verhale van opstandings uit die dood. In die middel van hierdie bespreking het CS Lewis die lesingsaal binnegestap. “Waaroor redeneer julle so heftig?” wou hy nuuskierig weet. Toe hy hoor dat hulle besig was om ’n spesifieke eienskap te probeer identifiseer wat uniek aan die Christelike geloof is, het hy dadelik geantwoord: “Maar dis doodmaklik – dis genade.”

Elke ander geloof vereis ’n bydrae van die mens se kant. Die Boeddhiste het die agtvormige pad, die Hindoes glo aan karma en die Jode en die Moslems moet dosyne wette gehoorsaam. Dit is net die Christelike geloof wat dit waag om God se liefde vir mense onvoorwaardelik, sonder enige voorwaardes te maak. Want Jesus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was. Juis toe ons dit geensins verdien het nie, stort God sy liefde oor sondaarmense uit, sterf sy Seun in my en jou plek sodat ons vrye toegang tot God se genade mag hê.

Vader, watter onbegryplike genade is u onvoorwaardelike liefde nie vir sondige mensekinders nie. Dankie dat U u Seun gestuur het om vir my te sterf juis op ’n tydstip toe ek dit die heel minste verdien het. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Derek Meyer ·

Nina Smit skryf:

“Elke ander geloof vereis ‘n bydrae van die mens se kant”

So, mens kan maar aanhou sondig tot mense doodgaan? Niks bydraes van die mens se kant af nie en sal steeds gered word? Moord, doodslag, ens vir altyd en sal steeds gered word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.