Gedagte vir die dag: Onvrede maak jou moeg!

Perde-Boekevat-.jpg

Foto: yulika.tumblr.com

Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. (Romeine 14:19, Die Boodskap)

Ek het reeds verwys na die fliek Philomena. Dit vertel onder andere die aangrypende verhaal van ’n vrou wie se buite-egtelike kind in die vyftigerjare, absoluut teen haar wil, deur nonne “verkoop” is. Vyftig jaar later besluit sy, toe as bejaarde, om saam met ’n joernalis haar kind te probeer opspoor. Hoe groot was haar pyn en teleurstelling toe hulle ontdek dat hy ’n paar jaar vroeër oorlede is. Sy sal haar kind, na wie sy al die jare so verlang het, nooit weer kan sien nie. Natuurlik het sy alle rede om woedend en verwytend te wees.

Maar dan sien ons, teen die einde, hoe sy aan die non, wat destyds verantwoordelik was vir dié gruwelike kind-verkooppraktyke, sê: “I forgive you.” Hierna stap sy weg, gaan toon ’n laaste huldeblyk aan haar seun by sy graf en gaan leef dan … in vrede. Philomena kon kies: om haarself moeg te maak deur kwaad en wrokkig te wees of om te vergewe en in vrede te leef. Sy het laasgenoemde gekies.

Onvrede maak ’n mens gedaan! Dit laat jou bloeddruk styg, gryp jou gedagtes vas en vreet soos ’n parasiet aan jou vrede. Dis só nie die moeite werd nie. Want, wanneer jy in onvrede leef, sluit jy as’t ware jouself in die tronk van wrok toe.

Kies vandag vrede. Dán kies jy rus en geluk. Dan kies jy om liefde te lééf.

Here, dis nie maklik nie, maar ek sal vandag vrede gaan uitdeel.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carmen ·

Ek stem sam…jy kann nie vergeet nie maar vergeewe!!!
Sorry eks german en my afrikaans is sleg of baie beter as engels

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.