Onwrikbare geloof help Indië se Christene om sterk te staan

Mehr staan ondanks talle struikelblokke sterk in haar onwrikbare geloof (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Die vervolging van Christene in Indië is georganiseerd, brutaal en intensief. Die gewelddadige vervolging en diskriminasie teen gelowiges in dié land, wat in die tiende posisie op Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys is, het sedert 2014 drasties toegeneem. Hindoe-ekstremiste word deur die Hindutva-ideologie gedryf om die land van alle Christen-teenwoordigheid en -invloed te probeer “reinig”.

Gelowiges word van alle kante af aangeval. Sosiale media word gebruik om propaganda en leuens te versprei, en om haat teenoor Christene aan te vuur. Gelowiges word van hul gemeenskappe en families afgesny en toegang tot werk, gesondheidsorg en regshulp geweier. Die ergste is egter die gewelddadige aanvalle – maar met die ondersteuning van hul wêreldwye familie, staan Indië se Christene ferm in hul onwrikbare geloof.

Evangelie bring redding

Mehr*, ʼn jong Christen-vrou in haar vroeë twintigs, bly saam met haar ouers en twee susters en het soos die meeste ander kinders in Indië in ʼn Hindoe-familie en -gemeenskap grootgeword. Sy het lank met ʼn chroniese siekte gesukkel, maar kon nie genesing of vrede deur haar Hindoe-geloof vind nie.

Sy het die Evangelie vir die eerste keer gehoor en haar lewe vir Jesus gegee toe iemand haar saamgenooi het kerk toe. Haar ma en susters het later dieselfde gedoen. Dié besluit het egter teen ʼn groot prys gekom.

Gewelddadige aanval

Mehr se ma en suster is een aand op pad terug van ʼn gebedsbyeenkoms af deur ʼn skare mense aangeval. Toe Mehr dit sien en nader hardloop om te help, het die vervolgers op haar ook toegesak.

Hulle het haar genadeloos geslaan en probeer verwurg. Sy het verskeie ernstige beserings opgedoen. Haar klere was geskeur en merke was om haar nek sigbaar. Terwyl sy bebloed en bewusteloos in die straat gelê het, het iemand ʼn ambulans gebel.

Mediese hulp geweier

“Die ambulans het my hospitaal toe gehaas, maar selfs daar kon my familie nie van die vervolging wegkom nie. Terwyl ek in ʼn hospitaalbed gelê het, is my familie geteister en gedreig. Hulle het na die owerhede gegaan, maar niemand is ooit ondervra of in hegtenis geneem nie. Hierna het my geliefdes een ná die ander hul werk verloor.

“Die aanvallers het die dokters en verpleegsters wat my in die hospitaal versorg het omgekoop om my behandeling te staak. Ek is hierna deur angstigheid en vrees oorval, en het so hulpeloos gevoel dat ek selfs selfmoord oorweeg het.

“Ek was verpletter en kon nie verstaan waarom alles gebeur het nie. God het my egter nie verlaat nie. Wanneer my ma of suster saam met my gebid het, is ek deur die Woord van God en die krag van gebed opgehef en versterk,” vertel sy.

Onwrikbare geloof

Om haar Bybel te lees, is vir Mehr baie spesiaal (Foto verskaf deur Geopende Deure)

Agter die brutaliteit speel ʼn ander verhaal egter af – ʼn verhaal van moedige, onwrikbare geloof. Danksy haar geloofsfamilie reg oor die wêreld se gebede en praktiese ondersteuning is Mehr besig om te genees. En vandag sê sy: “Jesus is alles vir my.”

Met behulp van plaaslike vennote in Indië, kon Geopende Deure Mehr se mediese rekeninge betaal en haar na ʼn ander hospitaal oorplaas.

Mehr deel: “God het julle gestuur om ons te help. Toe alles donker gelyk het, het jul gebede my en my familie opgehef. Baie dankie vir julle aanmoediging. My beker loop oor met seëninge.”

Haar geloof is vandag buitengewoon sterk. “God se plan vir my lewe is groot en ek sal vir Sy glorie gebruik word. Jesus Christus is alles vir my,” getuig sy.

ʼn Helpende hand

Danksy die ondersteuning en gebede van hul ondersteuners, kan Geopende Deure Indiese Christene soos Mehr help om ondanks die bedreiging van gewelddadige aanvalle en vervolging sterk te staan in hul onwrikbare geloof.

Jou geskenk van so min as R350 kan ʼn noodlenigingspakkie aan een vervolgde gelowige voorsien. Klik hier om vandag vervolgde Christene in Indië met ʼn geskenk te seën om hulle te help om onwrikbaar in hul geloof te staan en hulle toe te rus om ʼn lig vir Christus te wees.

*Naam verander vir sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.