Gedagte vir die dag:  Ook die ander?

Liefde_seesand_Stiltetyd.jpg

Foto: Annelize Brits

Lees 1 Johannes 5:1-5

Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik om te gehoorsaam nie … (1 Johannes 5:3)

Nie moeilik nie, sê Johannes. Nou ja …

Ons sal met hom verskil – en dalk net in die geheim, want ons is kerkmense, en kerkmense is nie daaraan gewoond om van Bybelse uitsprake te verskil nie. In elk geval nie openlik nie. Maar, ai, Johannes, hoe sê jy dan die nakoming van die gebooie is “nie moeilik nie”?

Ons hoor dat jy nie juis na al die fyner besonderhede in die Tien Gebooie verwys nie, maar na die oorkoepelende beginsel, naamlik “elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is”.

Maar dit is juis waar ons probleem lê. Sien, ons kan in alle beskeidenheid sê ons vaar nie té sleg met “daardie tien” nie: Om ander gode te dien en om voor beelde te kniel, is ondenkbaar. Ons probeer hard om God se Naam te eerbiedig. Ons is baie dankbaar dat Hy ons aansê om een dag uit die week se sewe-dag-siklus opsy te sit vir beter dinge as die gewone sleur en sukkel. Om ons ouers te eerbiedig kom eerlikwaar nie moeilik nie. Moord pleeg is nie regtig ’n oorweging nie. Met getrouheid in ons verhoudings en die weerhouding van diefstal en die afsku van liegstories probeer ons hard. Solank ons begeertes net niemand skade berokken nie, of hoe?

Maar die liefhêstorie is ’n ander saak. Dit pas my beter om my bes met die Tien Gebooie te probeer; wanneer ek sommige daarvan soms oortree, vra ek doodgewoon om vergifnis.

Maar liefhê? Ook die ánder? Nie sommer nie.

Ek het net lief wie my liefhet. Vergewe my hierdie gruwelike versuim, Here, en maak mý anders.

Bron:  Uit die Beek 2020 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Uit ons eie is ek tot niks goeds instaat nie..dankie Here vir Genade en die Heiliges Gees wat in my woon

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.