Gedagte vir die dag: Oor die hele wêreld

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde, onhoorbaar is hulle stem. (Psalm 19:3-4) – Deel 3

Nog iets oor die woordlose getuienis van God se skepping. Luister weer na die teks: Sonder taal of woorde word ’n getuienis gelewer wat van dag tot dag uitgedra word. Sonder woorde. Waarvoor gebruik ons woorde? Natuurlik hoofsaaklik as ’n kommunikasiemedium. Ons wil ’n boodskap daarmee oordra. Maar taal is bedrieglik – ons verstaan mekaar so baie keer verkeerd. Selfs ons mooiste woorde kan hulle doel mis. En by tye is ons selfs so onbesonne met ons woorde – slordig en onnadenkend en selfs morsig.

Maar hier in die teks het ons met ’n woordlose kommunikasie te doen. Word stil. Woordeloos. Ervaar God se skepping en luister na die woordelose getuienis soos net die onbeskryfl ike mooi natuur dit kan verbeeld. Luister met elke sintuig. Luister soos wat net ’n kind van God kan luister: Met die onbetwisbare wete dat dit wat jy ervaar die werke van God se hande is.

Die woordlose getuienis, so beweer die digter, word oor die hele wêreld gehoor. Tot by die uithoeke van die aarde. Ja, selfs daar waar mensetaal nog nie iets oor die grootheid van God kwyt geraak het nie. Want waar jy ook al op aarde is, dáár sal jy iets van die grootsheid van God se skeppingswonders ervaar. Word net stil en luister … God is daar. En God is groot en magtig. En die heel beste: Hiérdie God is jou God en Vader!

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Von ·

Dankbaarheid en lof aan U Abba Vader vir U wonderlike skepping en dat ek deel daarvan mag wees. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.