Gedagte vir die dag: Oor goeie nuus mag jy nie stilbly nie

 skare_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Daarna sê hulle vir mekaar: “Wat ons doen, is nie reg nie. Dit is ’n dag van wonderlike nuus en ons sê niemand daarvan nie! As ons wag tot dit lig word, sal ’n onheil ons tref. Kom ons gaan en vertel dit by die paleis van die koning.” (2 Konings 7:9)

Die koning van Aram het Samaria beleër waar die koning en sy volk gevangenes in hulle eie stad was. Daar was geen uitkomkans nie. Die kos het opgeraak. Hongersnood het die inwoners in die gesig gestaar. Dit het so erg ge raak dat mense duiwemis geëet het. Die profeet Elisa kondig egter aan dat die Here uitkoms sal gee. Niemand glo hom nie.

Buite die stad was vier melaatses wat vir hulle lewensonderhoud van aalmoese van die stadsbewoners afhanklik was. Nou was daar niks. Hulle besluit toe om by die vyand se kamp te gaan aan klop. Toe hulle daar kom, is hulle stomgeslaan. Die kamp was leeg. Die soldate het halsoorkop gevlug. Hulle kon hulle na hartelus aan die voorraad help!

Dis toe dat hulle tot die besef kom dat ’n mens nie goeie nuus vir jouself mag hou nie. Hulle moes die nuus by die stad gaan bekend maak. Die mense moes weet dat God die verlies in ’n onbeskryflike groot wins omskep het. Oor goeie nuus mag ons nie stilbly nie …

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.