Gedagte vir die dag: Oormaak is ’n goeie idee!

God-se-voertuig

Foto: Carsmoveus.com

Niemand sal tog ’n ou kledingstuk met ’n stuk nuwe, ongekrimpte materiaal lap nie. Die nuwe materiaal gaan immers krimp en losskeur en ’n nog groter gat agterlaat. (Matteus 9:16)

Die Fariseërs was al weer besig om fout te vind met Jesus en sy dissipels. Waarom vas hulle nie soos hulle veronderstel is om te doen nie? was dié keer hulle verwyt.

Soos altyd gebruik Jesus ook hier ’n eenvoudige metafoor om ’n kragtige boodskap oor te dra: ’n Kledingstuk wat oor jare krimp en later ’n gat kry, kan tog nie met ’n stuk nuwe materiaal (wat nog nie gekrimp het nie) reggemaak word nie! Wanneer daardie nuwe stuk in die wasproses ook krimp, kan dit mos skeeftrek en selfs ’n gat maak. Hierdie stremming sou groter skade kon bring! verduidelik Hy.

Hiermee probeer Jesus eintlik vir die verstokte Fariseërs sê dat die ou vormgodsdiens met al sy wette en reëls al gekrimp het, dat dit vernuwing nodig het. En dat hierdie vernuwing nie net op die ou vorm gelap kan word nie, maar dat daar ’n totaal nuwe evangelie nodig is en dat Hy gekom het om hierdie nuwe manier van godsdiens – van liefde – te kom vestig.

Soms moet ons ook toelaat dat die Gees nie net ons geloof lap nie, maar dat Hy ons oormaak. Totaal nuut maak. Nuut in ons denke, nuut in ons oortuigings, nuut in ons lewenswyse. Veral nuut in ons lief-wees.

Here, moenie net die gate in my hart toestop nie. Maak my liewer oor, asseblief.

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.