Gedagte vir die dag: Oorspronklikheid

 hou-hande_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik. (Romeine 12:6)

Is jy oorspronklik? Of gebruik jy gewoonlik ander mense se aanhalings, slagspreuke, pittige sêgoed of Bybelverse wat jy in grootmaat ontvang en aanstuur?

Ons almal leen soms by mekaar – ’n koppie suiker, ’n boek, ’n hot tray vir ’n spesiale geleentheid. Ek doen dit ook. En ek leen ook soms woorde en geestelike inspirasie.

Ons almal is nie skrywers van formaat nie, en ons hoef ook nie te wees nie. Maar ons almal is oorspronklike, handgemaakte skeppings uit die Vaderhand. Individue met ’n oorspronklike hart en ’n oorspronklike persoonlikheid waaruit iets oorspronklik kan vloei as deel van die liggaam van Christus hier op aarde.

Soms kry ek op dieselfde dag tot ses keer dieselfde slagspreuk of inspirerende aanhaling op my foon of per e-pos. Dit word dikwels ondeurdag geforward soos ’n kettingbrief of trend. Grootmaatstyl soos McDonald’s se take aways.

Ek moet bely, dié fabriektendens is nie altyd ’n bruistablet vir my siel nie; soms irriteer dit my selfs.

Iemand wat egter moeite doen om vir my één sinnetjie te stuur wat hulle self uitgedink het, laat my gees bruis. Dit hoef nie ’n meestermanuskrip te wees nie. “Hoe gaan dit met jou, Susan?” is goed genoeg vir my. Die ware omgee is die boodskap wat deurkom.

Om gedurig net tweedehandse sêgoed te sirkuleer, laat ons geestelik afstomp. Wees oorspronklik. Raak stil by die Here, dink aan iemand wat swaarkry, en gee iets uit jóú hart se oortuiging volgens jóú vermoë.

Vader, help my om ander mense met my eie opregte woorde uit my hart te bemoedig.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hallelujah ·

God ons Grote God. Ek vra U vandag om my hand te vat – my gedagtes op die regte plekke te sit. God ek weet nie wat om met een verteenwoordiger van ons familie te doen nie – hy is die pad byster God helemal byster. Gun my ‘n sterkte om die situasie te hanteer want ek weet nie meer hoe nie. Amen my God Amen

Gert ·

Goeie Mooi Oggend aan jou Susan . die woord smaak beter as ñ koppie koffie in die oggend. Eerste wat ek lees voor die koffie

Mooi bly, lief julle almal

Lena Jonk ·

Laat ons die stryd stry om op die einde die oorwinning te kry. Stem dit maak my ook gedaan om oor en oor dieselfde deuntjie te hoor en te sien. Dankie vir jou verfrissende bruistablette vir elke dag, soms is dit net daardie pilletjie wat ek nodig het. Hou so aan met Seen en voorspoed op jou taak.

#me ·

Susan, ek lees al jou boeke, maar kon nog nie by ‘n winkel uitkom om jou nuutste “Bruistablet vir die Siel” te kon aanskaf nie…. * (insert a very sad face here) * maar ek gaan hom beslis kry! Ek het ‘n “celebrity crush” op jou (LOL – dit klink bietjie stalky) want ek WENS ek kon die lewe soms deur jou oë beleef. Jy is vir my ‘n wonderlike voorbeeld van uniek wees, no matter wat ander sê of dink! En ek streef elke dag om “anders” te wees in Christus, no matter what! Want dit is die mees bevredigendste gevoel ooit!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.