Gedagte vir die dag: Oorvloed

rots_waterval_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: ‘Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei.’ (Johannes 7:38)

In hierdie wonderlike seisoen van die Christelike kalender het ons nodig om te hoor hoe goed God die Vader vir ons is. Hy reik uit na ons toe. Ons is te swak en nietig om dit te kan doen. Hy neem die leiding in hierdie verhouding deur middel van die Gees wat Hy stuur om in ons te werk en te woon. Sonder Jesus sou ons geeneen van hierdie dinge kon doen nie. Hy maak dit vir ons moontlik.

Jesus se koms na die aarde maak die deure van die hemel oop. Die afstand na God toe krimp. Hy is net ‘n gebed ver. Jesus is deur die Gees so naby, Hy woon nou binne-in ons.

Ons lees in Johannes 7:37-38 Jesus sê wanneer ons dors het, moet ons na Hom toe kom en drink. Hierdie lewende water wat Hy vir ons gee, sal soos ‘n rivier word wat deur ons en uit ons vloei. Die Heilige Gees bring hierdie oorvloed van God in ons lewens tot stand. Jesus bou ‘n brug van die hemel af na ons toe. Jesus gee vir ons die kans op die ewige lewe.

Jesus se oorvloed gaan voort na die kruis. Hier sterf Hy sodat ons kan lewe. Hierdie is nie ‘n gewone lewe nie, maar ‘n lewe van totale oorvloed. Ons ontvang nou die ewige lewe. Is dit nie aangrypend dat Jesus se sterwe vir ons lewe in oorvloed gee nie! Ons kan vandag net jubel dat ons mag deel aan hierdie stroom lewende water wat deur ons vloei en dat die Gees in ons woon.

Is jy ook deel van hierdie oorvloed? Lewe die Gees in en deur jou? In hierdie wonderlike tyd van geskenke, liefde en gee, moet jy die oorvloed wat jy beleef ook met ander deel.

Here, ek loof U vir die Gees se werk in my lewe. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.