Gedagte vir die dag: Oorvloedige seën vir elke goeie werk

koring_somer_son_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wat mense saai, sal hulle ook maai! (Galasiërs 6:7)

Toe ek baie jare gelede my lewe aan die Here toevertrou het, was ek doodtevrede daarmee om my plaas aan die armes te gee, Bybelskool toe te gaan en ’n bediening as prediker te begin omdat God my daartoe geroep het.

Die Here het egter deur die Skrif vir my en my vrou gewys dat ons moes bly net waar ons was. Hy het 2 Korintiërs 9:8 gebruik. Daar staan: “God is in staat om aan julle elke gawe in oorvloed te gee sodat julle in elke opsig altyd van alles genoeg kan hê én ook nog oorvloedig kan wees in elke goeie werk.”

Die Here het dit duidelik gemaak dat Hy ons plaas as ’n vesting wou gebruik waarvandaan die Heilige Gees kon werk. Dis presies wat toe gebeur het. Ons moet saai daar waar God vir ons sê om te saai en dan sal ons ons beloning maai.

As jy ’n vyandige gesindheid, woede, pyn, veroordeling en kritiek saai, is dit presies wat jy sal terugkry. Saai eerder genade, goedgesindheid en onverdiende vriendelikheid. Beskou die mens as God se skepping. Wees lief vir hulle en behandel hulle met respek, ongeag wat hul rol in die samelewing is. Behandel elke mens asof jy Jesus self bedien.

Wat jy saai, is wat jy sal maai. Begin dus liefde saai. As jy liefde saai, sal jy liefde maai. As jy dit deurlopend doen, sal jou hele lewe beter word. Raak ontslae van al die slegte saad en begin goeie saad saai. En wat is die goeie saad? Die Woord van God vertel ons dit is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22-23).

Ella Wheeler Wilcox het gesê: “Met elke daad saai jy ’n saad, al sal jy nooit die oes sien nie.” Kom ons begin goeie saad saai. Onthou, goeie saad kos jou niks nie, maar dit betaal jou iets, al sal die seën eers te voorskyn kom nadat jy na jou huis in die hemel gegaan het.

Here en Redder, U het my geroep om u dienskneg te wees. Ek wil vir U goeie saad saai, selfs al sal ek nie die oes in my leeftyd sien nie. Maak my oë oop om al die plekke te kan raaksien waar ek u liefde, hoop en vreugde kan saai. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Andre ·

Dankie oom Angus.

Ek sal nooit vergeet die dag by Jozi for Jesus nie. Ons het in die reen op die veld reg teen die verhoog gestaan. Was ‘n wolk breek eintlik… Oom Angus het vir die mense gese, “Julle bid vir reen en nou dat julle dit kry hardloop julle vir skuiling?”… Ek was toe nog eintlik op die draad met my geloof, en toe kyk oom Angus in my oe asof hy direk met my praat… Dit het gevoel asof die aarde ruk en net daar en dan het ek presies geweet wie en wat God vir my is en sal wees…
Ek probeer die goeie mooi saad saai, maar omdat mense verskil is dit partymaal moeilik. Mens se of doen iets met goeie bedoeling, maar die ander party sien dit dalk as vernederend. Hoe te maak…
Ek vra my vrou onlangs, “Wanneer jy iets vir iemand doen, is dit met die eintlikke gevoel om te se sien my raak of is dit eintlik uit genade?”. Die eerlikke antwoord sal jou soms skok…

Elaine ·

Ek hoop dit is waar want ek het nog nie vewyse daarvan in my eie lewe gesien nie. Hoe meer ek gee hoe swaarder gaan dit met my, en my liefde vir my medemens word met haat beantwoord.

jean ·

maklik om God te dien as dit goed gaan, as jy genoeg geld het almal gesond is en so aan,,,,,,,,,,,,,,,, toets kom as dit sleg gaan, as jy broke is en probleme het,,,,,,,,,,,,,, dan word die koring van die kaf geskei,,,,,,,,,,,,,,,,,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.