Gedagte vir die dag: Voel jy oorweldig deur jou omstandighede?

rus-by-God

Foto: Tearsinabottle.wordpress.com/Royalty-Free/Corbis

Die Here neem dié wat Hom dien, in sy vertroue … My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. (Psalm 25:14-15)

Voel jy vandag vasgevang en oorweldig deur jou omstandighede? Miskien is jy siek of dalk tree iemand onmenswaardig teenoor jou op en dit voel vir jou jy kan net mooi niks daaromtrent doen nie. Dalk staan jy in ’n beroep wat jou uitmergel, maar daar is niks wat jy kan doen nie? Sulke situasies kan ’n mens magteloos laat. Jy voel in ’n donker hoek vasgedryf, onseker en ellendig. Psalm 25 gee jou moed. Die Here kan jou uit die vangnet help. Stel jou vertroue in Hom en vra vir Hom leiding. Hy was daar vir jou in die verlede, Hy is nou by jou, al voel dit nie altyd so nie. Hy sal jou ook bystaan deur seer seisoene in die toekoms. God sal vir jou uitkoms gee, Hy is almagtig en heers oor die hele skepping en elke mens.

Ken Hom in alles wat jy doen, dien Hom en leef in noue kontak met Hom, dan sal God jou leer om die pad so te stap dat jy nie in ’n slagyster trap of in ’n gat val nie. Vertrou God met jou lewe, Hy sal jou lei.

Hoe lei die Here ons? Die eerste stap is ons moet ’n behoefte daaraan hê en besef dat sy leiding hoofsaaklik in die Bybel gevind word. Ons moet sy Woord gereeld lees en daaruit leer, dan sal ons die insig hê om sy leiding in ons lewe te onderskei.

Om die Here te dien beteken dat ’n mens Hom sal erken as heilige, almagtige, regverdige, rein, alwetende en alwyse God. God is ons enigste bron van redding, hoop en ware vrede. Al voel dit vir ons asof ons probleme al groter word. God is die enigste een wat hierdie afwaartse spiraal kan stuit. Hy verander ons probleme in heerlike oorwinnings.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

treurgrond ·

Liewe Jesus, ek voel oorwelding deur my omstandighede. Ek weet ook dat U Jesus daar is. U tel my op Jesus. Ek weet dit in elke klein dingetjie wat om my omgaan – nie in groot goed nie Jesus net in klein goedjies. Ek is op my kniee en ek dank U daarvoor my Jesus. Amen

Pauline Marx ·

Graag Wil Ek u bedank vir die daaglikse boodskap pie
Dit meen en doen baie vir my!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.