Gedagte vir die dag: Oorwinnaars

Stiltetyd_wolke_plaas_Floris-Booysen-13.jpg

Foto: Floris Booysen

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. (Romeine 8:37)

Jesus het ons deur sy dood vrygemaak van die mag van die Wet, want wie kan so perfek wees om elke wet elke dag getrou na te volg? Dink ’n bietjie? Hoeveel offers sou jy dan moes bring om jou van God se oordeel te vrywaar? Niks wat ons kan doen, is goed genoeg nie, dit weet ons almal. Ons is geskape na die beeld van God, maar dra ook swaar aan ons sondige natuur. Sondes van gedagtes, woorde en dade agtervolg ons van vroeg tot laat. Som­mige daarvan doen ons sonder om te besef wat ons doen, ander pla ons om­dat ons weet dat dit moedswillig was.

By dit alles is ons gewikkel in ’n stryd om te bestaan. Ons bid en werk en werk en bid, maar kom skaars tot rus en lê snags tot laatnag en dink aan ons probleme. God sorg vir ons, ons weet, maar Hy gee ons ook verstand om uit te werk dat niks vanself sal gebeur nie en dat Hy ons van die nodige gereedskap voorsien om te doen wat ons moet doen. Sy seën op ons arbeid is egter nie altyd wat ons verwag nie en dit maak ons mismoedig.

Soms draai ons bekommernisse om ons en ons eie mense, ander kere gaan dit om die beelde van geweld en oorlog wat ons op die televisie sien, betogers wat om wettige redes betoog en mense wat werkloos en honger is.

Jy luister na die dak se gekraak en dink aan inbrekers en rowers. Jy wil huil oor plaasmoorde en plakkershutte wat afbrand, en dan is jy weer terug by jou eie skete. Skakel jou leeslamp aan, lees Romeine 8 en kry ’n bietjie perspektief. Al hierdie goed wat pla, die skewe beelde van God se sorg en genade, kom nie van God af nie. Hy het ons nie as verloorders geskape nie, Hy maak ons oorwinnaars in elke omstandigheid omdat Hy ons in Jesus liefhet.

Hemelvader, dankie dat U my telkens aan Jesus se liefde herinner.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.