Op die rooi tapyt saam met my eie BBP

Mia Slabbert jpg.

Mia & Rose

“6 Below: Miracle on the Mountain” is die eerste fliek van drie prente wat deel uitmaak van die Skeppingsdoelveldtog.

Deur Mia Slabbert

Sy is hierdie jaar 59 jaar oud. Van swaarkry kan jy haar niks vertel nie. Op die ouderdom van agt is haar ouers dood en moes sy skool verlaat om mense se wasgoed te begin was sodat sy kos vir haar drie sibbe kon voorsien. Sy moes as kind ʼn ma word, ʼn versorger, ʼn trane-afveër, ʼn slaansak.

Haar naam is Roselina en vandag is sy my ma, my engel en my vriendin. Ons bid saam vir haar vier kinders en kleinkinders, sowel as my eie twee. Ons drink tee, ons huil saam, ons stap saam, ons praat oor die tyd van tóé en die tyd van nóú. Sy vertel en leer my baie dinge en saam bid ons vir môre.

Rose werk al vir drie jaar by ons en woon al die afgelope jaar permanent by ons. Sy is nie net spreekwoordelik ʼn “gogo” vir my kinders nie, sy is familie en leer my elke dag van vergifnis. Sy leer my kinders Sotho en ons bak koekies vir haar kleinkinders.

Toe ek hierdie week ʼn uitnodiging ontvang na die première van die nuwe rolprent, 6 Below: Miracle on the Mountain, was Rose my eerste keuse as metgesel. Sien, sy was nog nooit in ʼn teater nie en toe ek haar een keer vra of sy saam my wil gaan fliek, was haar antwoord: “Nee, sussie, gaan geniet julle. Gogo sal die kinders kyk.”

Rose.jpg

Rose tydens die premiere.

ʼn Lewe van net gee-gee-gee het Rose se hart laat vergeet dat ʼn mens self ook moet ontvang. Sy het skaam geword om te ontvang. Sy het skaam geword om net te sit en niks doen nie. Sy het bang geword dat as sy ophou gaan gee, gaan sy nie meer ʼn doel in die lewe hê nie en dan gaan sy vergete raak. Haar gee-hart het vir haar begin jok.

Dinsdagoggend bel ek haar: “Rose, ek vat nie nee vir ʼn antwoord nie. Vanaand verf ek en jy die strate rooi. Ons gaan opdollie en ons gaan die kinders by hul pappa los.” Daardie middag sit ek en sy op die bed. Sy het trane in haar oë. Ek sê vir haar sy kan enige rok in my kas kies om aan te trek. Sy vee haar trane af. Sy kies ʼn swart rokkie. Deftig, stylvol, klassiek – tydloos net soos sy is. Ons doen haar hare en sit vir haar bloedrooi lipstiffie aan. Dit lyk pragtig met my troupêrels wat perfek om haar skrale nek hang. Haar oë skitter van die trane en sy kry net een sin uit: “Ek het nie woorde nie.” Maar wat sy nie weet nie is dat dit bloot ʼn druppel aan die emmer is van wat sy as vrou verdien.

Ons twee lag altyd en sê hoewel ons nie baie geld het nie, het ons Jesus se vreugde in ons hart en daarom, ten spyte van kultuur, agtergrond en seer, is ons waardig, is ons een.

Die première was een van die ongelooflikste aande. Die verwondering in Rose se oë het my trane heeltyd vlak laat lê. Sy het aan alles gevat en het aan elke stukkie kos geproe, néé gesmul. Ons het foto’s geneem en wyn gedrink. Voor die prent begin sit ons op ʼn bankie, gereed om in die teater te gaan. Rose neem my hand en sê vir my: “Mia, ek dink dit is my roeping om na klein Leo te kyk.” Kyk, Rose kyk deur die week na my kleintjie Leo en hulle is soos vinkel en koljander. Beste maats. Sy help hom met sy uitdagings en hy is so lief vir haar. Haar woorde het in my hart weerklink. Sy ís vir ʼn doel saam ons.

6 Below: Miracle on the Mountain is geskoei op ʼn ware verhaal van deursettingsvermoë, uitdagings, verslawing en uiteindelik die wonderlike wonder van ʼn tweede kans. Dit gaan oor ʼn doel in die lewe en die oneindigende liefde van ʼn ma. In die teater neem ek Rose se hand en sy kyk vir my. Ons hoef niks te sê nie. Ons glimlag net vir mekaar.

Ons al twee is ʼn tweede kans op die lewe gegee. Ons al twee het ʼn tweede kans gekies. Ons al twee het geveg vir ons tweede kans. Ons is al twee deel van mekaar se tweede kans. Wat ʼn voorreg.

Haar naam is Roselina. Sy is ʼn BBP. Sy is waardig.

 6-Below.jpg

“6 Below: Miracle on the Mountain” open op Vrydag, 2 Februarie in Ster-Kinekor teaters landswyd.

Oor die prent 6 Below: Miracle on the Mountain

Eric LeMarque is bekend as ʼn voormalige professionele en Olimpiese yshokkiespeler. Deesdae ken die wêreld hom ook as ʼn bekroonde internasionale skrywer van twee boeke en ʼn gewilde motiveringspreker met sy boodskap van hoop. Van Vrydag 2 Februarie gaan Suid-Afrika kan deel in die inspirerende avontuurdrama wat LeMarque se lewe vir altyd verander het.

Hierdie Amerikaanse fliek wat ʼn hele klompie gekos het en met Josh Hartnett en Mira Sorvino in die rolverdeling is deur die Suid-Afrikaans gebore Simon Swart vervaardig. Hy was 20 jaar lank aan die stuur van tuisteater-vermaak by 20th Century Fox in Hollywood voordat hy in 2015 sy eie onderneming begin het.

6 Below: The Miracle on the mountain is die eerste in ʼn reeks van drie nuwe grootskerm-fliekuitreikings deur die nuutgestigte Faith Film Hub-Africa. Ná hierdie avontuurdrama volg die uitreiking van die nuwe Frans Cronjé-prent The Roar aan die begin van Maart en Victor, die desperate oorwinningsdrama in die werklike lewe van Victor Torres, teen middel-April.

6 Below: The Miracle on the Mountain is gelaai met spanning, avontuurdrama, angs, verstommende sportvaardighede, desperaatheid, die krag van gebed en die hoop van ʼn ma en haar seun. Dié fliek op die grootskerm sal fliekvlooie se nuwe jaar op ʼn hoogtepunt begin.

Besoek Faith Film Hub-Africa  of die Facebookblad vir meer inligting. Blokbesprekings kan gedoen word by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antoinette Burger ·

Ons almal kan gerus meer doen vir die swrt engele in ons lewens. baie jare gelede het ons johannah (nou ongelukkig oorlede) en haar gesin van man en 5 kinders see toe gestuur vir ‘n week-lange vakansie aan die Suidkus (Umgababa). Dit was hier in 1974 rond. Die ongelooflike dankbaarheid en waardering was alles die moeite werd. Iets wat ek nooit sal vergeet nie was haar melding van die skoonmaakdienste elke dag van die chalet waarin hulle gebly. Haar opmerking: “Ek het gedink ek is die witmens”. Eisj.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.