Gedagte vir die dag: Op moedverloor se vlakte 

sonsopkoms_rustig_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. (2 Korintiërs 4:16)

Wanneer ons die boek Handelinge of selfs Paulus se briewe in die Nuwe Testament lees, kom ons vinnig agter dat hy vele beproewinge moes deurmaak. In 2 Korintiërs 11 skryf hy onder andere van die mishandeling, lyding, honger, dors en slapelose nagte wat hy verduur het ter wille van die evangelie.

In hierdie wêreld word ons telkens met swaarkry gekonfronteer, en as vroue dra ons dikwels méér as net ons eie laste: Ons neem ons kinders, lewensmaat, vriendinne en familie se laste ook op ons. Dit is somtyds te midde van sulke swaarkry dat ons op moedverloor se vlakte staan.

Dit is juis in sulke omstandighede dat Paulus die woorde van ons kernvers skryf. Paulus bied nie ’n kitsoplossing vir ons probleme aan nie, en hy moedig ons nie aan om van swaarkry af weg te skram nie. Nee, Paulus herinner ons dat hierdie wêreld en die fisiese en geestelike lyding wat ons hier beleef, nie die einde van ons verhaal is nie. Dat ons nie moed hoef te verloor nie, want God werk in ons deur sy Gees – selfs te midde van ’n skynbaar hopelose situasie.

Paulus bevestig opnuut dat ons lewe oor meer gaan en verder strek as net dit wat ons in die hede beleef. God se Gees is reeds besig om ons, ten spyte en te midde van elke terugslag, te vorm en te vernuwe tot die mens wat ons geskep is om te wees. Hou goeie moed! God is by jou deur sy Gees en Hy beloof om jou nooit te verlaat of in die steek te laat nie.

Here, dankie dat ek op U kan staatmaak en verseker kan wees dat ek nie my laste alleen dra nie. Dankie dat lyding en swaarkry nie die laaste sê oor my lewe het nie. Heilige Gees, vernuwe en vorm my tot u eer. Amen.

Bron: Vroue van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lena Jonk ·

Dankie Jesus dat ons al ons bekommernisse en laste na U toe mag bring. Dankie dat ons, ons vreugdes ook na U toe mag bring.

Elize ·

Ek probeer elke dag net my oe op die Here te hou en ek glo Hy is besig om aan my situation te werk ek moet net glo en vertrou ek probeer regtig Dankie Heer vir U genade oor my en my familie

Hans Richardt ·

Daarom bid ek elke dag dat God my moet help in my swakheid van kleingelowigheid. Dit bly daaglikse innerlike stryd om geloof so groot mosterdsaadjie te kry..

Jan Seerot ·

Hoe nodig het nou juis nou YHWH se genade, hier wat ons in ‘n Afrikaland vasgekeer sit. Geen geld en min vooruitgang. Net gebed en hoop. Dis wat ons het. Gebed en Hoop.

Mari ·

Is daar enige kind van die Here of ‘n pastorale berader om raad te gee. My kind aanvaar als wat verkeerd is , my goeie opvoeding en haar geestelike lewe verwerp sy. Sy aanvaar dat sy ‘n mislukte persoon is sooa haar pa elke dag vir haar se. Ek is baie moedeloos , hartseer. Kan iemand my raad gee asb. My kniee is al deur gebid

Mari ·

Is daar enige kind van die Here of ‘n pastorale berader om raad te gee. My kind aanvaar als wat verkeerd is , my goeie opvoeding en haar geestelike lewe verwerp sy. Sy aanvaar dat sy ‘n mislukte persoon is sooa haar pa elke dag vir haar se. Ek is baie moedeloos , hartseer. Kan iemand my raad gee asb. My kniee is al deur gebid

Kind van die Here ·

Uit ervaring het ek geleer dat die mens wat min selfvertroue in hom/haarself het gewoonlik die een is wat ander afbreek sodat hy/sy beter oor hom/haarself voel. Ek glo dat elke negatiewe aanmerking wat iemand vir jou sê met liefde hanteer word. Liefde oorwin alles. Sonder liefde is ons niks. En wees sterk en vol moed.

Kind van die Here ·

Jammer, dit moet gelees het, ‘ek glo dat elke negatiewe aanmerking wat iemand vir jou sê in liefde hanteer moet word; daarmee bedoel ek om te sê om te probeer verstaan hoekom die persoon so voel en sê wat hulle sê.

JEANNE ·

Ek vra asb vir gebed vir my finansies en dat ek permanent aangestel moet word ek kan nie meer slaap in die aand nie die bekommernis eet my op en dat God my n deurbraak gaan gee ASB IN JESUS NAAM AMEN.

KB ·

@ Mari: Begin by jou kerk. As jou geestelike leier nie kan help nie sal hy of sy sekerlik vir jou ‘n verwysing kan gee.

Desmond ·

Ek weet nie hoe jy bid nie, maar die volgende is n beproefde “resep”. Voor jy bid moet jy rustig word en n gedeelte uit die Bybel lees. Daar is baie opbouende Psalms bv. Om te lees. Moenie met n shopping list begin bid nie. Dank die Here God vir alles wat Hy vir jou doen en loof en prys Hom al vind jy dit hoe moeilik. Dit is die begin punt van n gebed. Daarna volg jou shopping list. Daar is n gesegde wat sê: n gebed wat nie beantwoord word nie is n gebed wat nie gebid is nie
n Ander punt is die negatiewe goed wat jou man oor die kind uitspreek en ook wat sy glo. Terwyl dit gebeur sal jou gebede weinig of geen invloed hê nie. Veral jou man moet ophou daarmee en hy moet haar moed inpraat en op haar goeie punte konsentreer. Jy moet ook vir hom bid om sy denke en woorde te verander.
Ek hoop die paar woorde is van hulp en dat jou gebede verhoor en beantwoord sal word. Baie sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.