Gedagte vir die dag: Op skrif

Bybel

Argieffoto

Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees. (Romeine 15:4)

Ek het onlangs die voorreg gehad om ’n flentertjie van die Johannesevangelie in Londen se stadsbiblioteek (British Library) te sien, in ʼn glaskas uitgestal saam met ander antieke manuskripte wat deur navorsers ontsyfer is en in verstaanbare onderskrifte vir gewone lesers weergegee word.

Wat ’n wonderwerk is die strepies en kolletjies, die tekens wat ons as woorde interpreteer en in ’n taal wat ons verstaan, kan omsit!

Die Bybel is eeue lank deur monnike met pen en ink oorgeskryf, voor Johann Gutenberg dit deur die drukkuns van die monopolie van die kerk bevry het en in die hande van gewone mense geplaas het. Vandag is dit vrylik beskikbaar in baie tale, ook in ons eie.

Dis nie aan een persoon toevertrou om die geskiedenis van God se bemoeienis met sy verbondsvolk te beskryf nie. Die Bybel is ’n biblioteek van 66 boeke geïnspireer deur die Heilige Gees; neergeskryf, oorgeskryf en vertaal deur betroubare skrywers wat God se Woord met respek benader het.

Iemand wat nog nooit die Bybel gelees het en niks weet van die antieke Joodse geskiedenis nie, sal waarskynlik verstrik raak in die verhale en profesieë van die Ou Testament, maar ons wat Christus as Saligmaker aanvaar, sal lyne kan volg wat direk op Jesus uitloop. Die Bybel is saamgestel om ons die weg na Jesus te wys. Dis die moeite werd om dit van voor tot agter deur te lees. As iemand bewyse soek, moet hy dit in die Bybel gaan soek, nie in kwaadwillige verdraaiings en skewe interpretasies nie.

Dankie, Here, dat U vir ons skrif gegee het én die Skrif in ons eie taal. Help ons om dit te lees asof ons ’n brief uit die hemel lees. U praat met ons selfs tussen die lyne – ons wat met oë van geloof lees en met ore van geloof hoor. U woorde bevestig ons hoop.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

louis ·

Dankie vir U woord in ons eie taal. Gee genade Here om U woord in bewaring te hou deur dit te lees en doen wat ons daaruit leer! Wat n groot voorreg.

Jan Jooste ·

Puik artikel. Uiters belangrike Heilswaarheid ten opsigte van die enigste volhoubare handleiding vir ‘n oorwinningslewe.

Voorspoed, Jan

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.