Gedagte vir die dag: Opdrag

Stofpad_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 9:1-6

Toe het Hy hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en die siekes gesond te maak. (Lukas 9:2)

Bybellesers vergeet soms dat Jesus se navolgers, en dan juis die twaalf bekendstes, nie deurentyd by Hom was nie. Hy het hulle vroeg-vroeg reeds uitgestuur om koninkrykswerk te gaan doen. En dan letterlik dít – “om die koninkryk van God te verkondig” (v. 2). Dat Hy ook aan hulle die vermoë gegee het om genesing in sy wydste omvang te bring (vgl. v. 1), was ’n bykomende vaardigheid, én ’n opdrag.

Is dit vandag anders? Is baie gelowiges se uitgesproke begeerte om “net aan Jesus se voete te sit” ’n volhoubare wens? Klaarblyklik nie. Jesus se navolgers moet hulle gereed hou om gestuur te word.

En dan nie noodwendig na waarheen hulle gestuur wíl word nie. Trouens, Jesus het destyds reeds gewaarsku dat hulle nie oral welkom sal wees nie (vgl. v. 5); dat daar mense is wat hulle nie sal wil ontvang nie. Hulle moet hulle egter nie hieroor moeg maak nie; dié weiering sal ’n aanklag teen diegene met die geslote deure wees. Mag sulke botheid egter die uitsondering wees! Mag die opdrag om die koninkryk te verkondig en om genesing te bring, die gestuurdes se volle aandag kry. Mag die wete dat hulle met die kosbaarste van alle boodskappe vertrou word, hulle inspireer om deurentyd hul bes te doen.

Ja, en mag jy, navolger van Jesus en gestuurde van God, nooit vergeet wat die boodskap is en hoe dit klink nie. Bly ’n student van Jesus se koninkrykstories, en wees daarop voorbereid om telkens verras te word deur hierdie verhaaltjies wat die Evangelieskrywers “gelykenisse” genoem het. Dáár verneem jy hoe sake in die koninkryk werk, en hoor jy die Koning se hart klop.

Ek is u koninkrykskind, ek is tuis by U. Leer my altyd hoe om hieroor te praat.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

OW ·

Die Evangelie van Lukas is interessant omdat Lukas sy Evangelie vir ‘n Griekse heiden vertel,en dus wil aantoon dat Jesus Christus vir alle mense gekom het en strek terug tot by Adam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.