Opdragte vir hemelvaart tot wederkoms

(Foto: Helena Lopes/Unsplash)

Deur Johan Oosthuizen

As ons in die Woord na aanbevelings en riglyne kyk, is dit niks anders as verdere opdragte nie. Leef só, doen dít as kind van die Here in aanloop tot die wederkoms, of dan nou solank as wat jy lewe totdat jy tot sterwe kom. Ons mag nie maar net voortstrompel en hoop vir die beste nie. Dis ʼn kwessie van gehoorsaamheid met hemelse gevolge uit genade.

Hoe sal ons dan nou weet wat van ons verwag word? Ons God hou ons nie in die duister nie, want “U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad,” en dan sê die salmis verder, “Ek het ʼn eed afgelê en daarby sal ek bly, om my aan U bepalings te hou.” Ps. 119:105,106.

Die Psalmis het ʼn eed afgelê om te hou by die bepalings en dit toon die erns in sy hart. Is dit werklik ook ons erns? Voordat ons kyk na die aanbevelings en riglyne, wil ek van harte aanbeveel om biddend en eerlik, peinsend deur die langste Psalm te werk. Dan sal ons ook kan sê: “U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad.” (Vers 104).

As ons die aanbevelings en riglyne bepeins, gaan dit deurgaans oor verhoudings en ingesteldheid. Die verhouding tussen my en die Here, die verhouding met my medemens en dan moet ek ook deurgaans my eie binneste inkyk en vasstel wat dáár aan die gang is. Dis so wonderlik dat die Here nie vir ons laat wonder en in die duister rondtas nie. Die sanger sing: “U gee ons U woord. U woord is die waarheid!”

Paulus gee vir ons goeie raad: “Aangesien julle dan Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle in verbondenheid met hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou, vas in die geloof soos julle geleer is.” (Kol. 2:6). Om in verbondenheid met Hom te lewe, moet ons handel en wandel ooreenkomstig sy aanbevelings en riglyne.

Om dit te doen, gaan nie gepaard met sweet en trane nie! Ons moet ons in die Here verbly! Met borrelende blydskap uit dankbaarheid, moet ons aanbevelings en riglyne ter harte neem. Paulus skryf aan die Filippense en hoor wat sê hy: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil. 4:4). En dan gee hy aanbevelings en riglyne.

In Romeine hoofstuk 12 skryf Paulus oor die nuwe lewe in Christus. In vers 1 doen hy ʼn beroep: “Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is.” Hy maak ʼn paar aanbevelings en dan kom hy by klinkklare riglyne vir die Christelike lewe van vers 9 af.

Tot by vers 22 gee Paulus meer as twintig riglyne wat vir elke kind van die Here goue reëls behoort te wees. Sonder om die riglyne hier neer te pen, is dit my wyse raad dat elke Christen hierdie riglyne op gereëlde basis biddend ter harte sal neem.

ʼn Ander man wat ondubbelsinnige aanbevelings en riglyne aandui, is Matteus en wat so belangrik is, is dat hy Jesus sélf laat praat in hoofstukke 5 tot 7. Dit gee vir ons ʼn glashelder aanduiding hoe ons nou en tot sy wederkoms moet lewe. Hier gaan dit oor verhoudings. Die persoonlike na binne kyk, maar ook oor interpersoonlike verhoudings. Ons moet inkyk en rondkyk. Maar dan gaan dit in besonder ook oor hoe ons na Jesus moet opsien om Hom na te volg. ʼn Mens sou graag van die riglyne wou uitlig, maar om as kind van die Here gehoorsaam te leef, wil ek sê dat ʼn mens hierdie hoofstuk van harte moet ken en uitleef.

Die skrywer van die brief aan die Hebreërs moedig vermanend in hoofstuk 12:1,2 dat elke las van sonde afgegooi moet word, sodat die wedloop, met die oog op Jesus, die Begin en Voleinder van geloof, met volharding gehardloop kan word. En dan gaan hy verder en sê waarom die Here diegene tug wat Hy liefhet.

Hy begin vers 5b begin hy met ʼn vermaning: “My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet. Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem.” Waarom dan nou hierdie stuk in Hebreërs? Die Here ken ons natuurlike neigings. Ons moet maar partykeer so ʼn bietjie vóél.

Dan kom hy in hoofstuk 13 met so ʼn breëspektrumlys van aanbevelings en riglyne. Kostelik is dit as hy in verse 5 en 6 waarsku teen geldgierigheid en sê dat ons tevrede moet wees met dit wat ons het en dan kom die kosbare belofte en belydenis: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie. Daarom kan ons met vertroue sê: Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: Wat kan ʼn mens aan my doen?”

In die briewe van Petrus, kom hy in 1 Pet. 1:13-16 met sy oproep om heilig te lewe in aanloop tot die wederkoms. Hy maan eers teen wêreldse begeertes en dan sê hy in vers 15,16. “Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: ‘Wees heilig, want Ek is heilig’.”

In hoofstuk 4 vanaf vers 12 skryf hy oor lyding as Christen: Geliefdes, moenie verbaas wees oor die vuurproef waaraan julle onderwerp word nie. Wees liewers bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms in heerlikheid. Hy wei uit oor lyding en in vers en in vers 19 tot die slotsom: Daarom moet dié wat ly omdat God dit wil, hulle lewe toevertrou aan die getroue Skepper en aanhou goed doen.

Aan almal wat met onbeskryflike wederkomsverwagting leef, skryf Petrus in 2 Pet. 3 vanaf vers 10: “Maar die dag van die Here sal so onverwags soos ʼn dief kom.” Vers 13: “Ons leef in die verwagting van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.” Die riglyne en aanbevelings in die Woord, help ons om gereed te wees op daardie dag.

Openb. 22:20,21. “Hy wat dit alles getuig, sê: ‘Ja, Ek kom gou!’ Amen! Kom, Here Jesus!”

Die genade van die Here Jesus sal met almal wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.