Opgesluite Bybelverspreider lei tronkbewaarder na die Here

ʼn Deelnemer aan dissipelskapsopleiding leer meer oor God met sy Arabiese Bybel byderhand (Foto: Geopende Deure)

ʼn Mislukking het in ʼn oorwinning verander vir John*, ʼn Bybelverspreider in die Midde-Ooste. Toe hy onlangs Bybels na ʼn land in dié streek gesmokkel het, is hy by die grens in hegtenis geneem en in ʼn tronksel gegooi – min wetende dat sy storie ʼn onverwagse uiteinde sou hê.

John* is ʼn hedendaagse “Bybelsmokkelaar”, wat Bybels na lande neem waar Christene min of geen toegang tot die Woord van God het nie. In sommige van dié lande is die Bybel egter verbode, wat beteken dat dit in die geheim versprei moet word onder Christene, ondanks gevaarlike omstandighede vir die verspreider.

Hy het met ʼn tas, gevul met 50 Bybels, na een van die Islamitiese lande in die Midde-Ooste gereis, maar is laataand by die grens voorgekeer. Die doeanebeamptes het sy bagasie deursoek en op die Bybels afgekom.

“Ek is daardie nag vir ure lank by die polisiestasie aangehou en ondervra deur sewe doeane- en polisiebeamptes. Ek het vir hulle gesê dat die Bybels geskenke is, maar hulle het my nie geglo nie en dit gekonfiskeer. Die amptenare het ook my selfoon afgevat en my daarna in ʼn tronksel toegesluit. Ek was aanvanklik in ʼn enkelsel, maar is teen 05:00 die oggend geskuif na ʼn ander sel saam met ʼn klomp immigrante,” vertel hy.

John het teen 03:00 die oggend ʼn gesprek aangeknoop met die tronkbewaarder. “Ek het hom gevra wanneer ek na my hotel kon gaan, maar hy het geantwoord dat ek op die eerste vliegtuig landuit gesit sou word.”

Wat hierna gebeur het, wys hoe God somtyds werk en dat Hy alle omstandighede tot voordeel van diegene wat hom liefhet, kan gebruik. “Die man het gesê dat ek nie dieselfde as die ander gevangenes was nie. Hy het my daarna vertel dat sy pa ernstig siek was. Ek het dadelik gevra of ek vir sy pa kon bid.”

ʼn Oop Arabiese Bybel (Foto: Geopende Deure)

Die man het ingestem en John het vir hom gebid. Hy het daarna vir hom sy getuienis vertel en verduidelik hoe belangrik Jesus vir hom is. Hy het ʼn klein Nuwe Testament uit sy sak gehaal en die “plan vir redding” wat daarin gedruk was vir die man gelees. “Die tronkbewaarder het Jesus as sy Redder aanvaar. Ek het trane in my oë gehad oor hierdie wonderwerk. Hierna het hy my Bybels aan my teruggegee en teen 08:00 die oggend was ek op pad lughawe toe.”

John sê hy het gevoel dat God heeltyd by hom was. “Ek het die Here gedank en geprys van die oomblik af wat my tas by die grens oopgemaak is, totdat ek weer op die vliegtuig was. Ek het vrede van God ervaar en kon Sy hand in alles sien wat gebeur het. Dinge het anders verloop as wat ek beplan het, maar God het besluit om my planne drasties te verander om hierdie man se siel te red. Ek was slegs ʼn toeskouer in ʼn baie groter plan.”

Colin*, ʼn vennoot van Geopende Deure wat dikwels soortgelyke reise onderneem, sê hy hoor dikwels getuienisse oor hoe God die Bybelverspreiders se bagasie beskerm. “Ek dank ons Vader dat die meeste van dié reise goed verloop. Christelike literatuur is baie welkom in die Midde-Ooste en ander wêrelddele waar Christene vervolg word.

“Bybels, Christelike boeke en dissipelskapsmateriaal is noodsaaklik vir ʼn groeiende kerk met nuwe gelowiges. Hoewel dit een van hul grootste behoeftes is, is dit ʼn groot uitdaging om Bybels in sekere gebiede te versprei,” vertel hy.

In sommige lande moet die Bybel ingesmokkel word vir geheime gelowiges wat in huiskerke vergader (Foto: Geopende Deure)

John, Colin en ander Bybelverspreiders se reise om Bybels na ons vervolgde broers en susters te neem, is te danke aan die hulp en donasies van ondersteuners wat in liefde na hulle uitgereik het. Dié ondersteuning verseker dat hulle weet dat hulle nooit alleen is nie.

Jou vennootskap met Geopende Deure kan vandag help om talle gelowiges met hul eie Bybels te seën. Vir so min as R130 per maand, kan jy Bybels aan vervolgde gelowiges wêreldwyd voorsien om hulle geloof te help versterk te midde van die storms van vervolging.

SMS “BYBEL” en jou NAAM na 43699 om ʼn verskil te maak in die lewens van ons broers en susters in geloof. Besoek gerus ook ons webtuiste by www.opendoors.org.za vir verdere inligting.

*Name verander en verteenwoordigende foto’s gebruik vir veiligheidsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.