Gedagte vir die dag: Oppas vir dwaalleraars

Argieffoto (Foto: Chris Hilbert/Pixabay)

Baie mense sal agter hulle aanloop op hulle wilde paaie, en hulle sal veroorsaak dat mense sleg praat van die enigste ware Pad. Maar hulle vonnis, waarop God lankal besluit het, wag om uitgevoer te word. (2 Petrus 2:2-3, NLV)

Soos dikwels in sy briewe, waarsku Petrus hier teen die gevaar van dwaalleraars wat Christene op ’n syspoor kan laat beland.

Hierdie mense veroorsaak dat gelowiges in diskrediet gebring word en selfs aan seksuele sondes toegee. God sal dit egter nie duld nie, Hy straf altyd sonde, maar weet hoe om sy kinders van swaarkry te red.

Ons is vandag ook uitgelewer aan allerhande godsdienste en seksuele praktyke wat radikaal van Bybelse riglyne verskil en ons kan dus ook verwag dat God ons sal straf wanneer ons sonde doen. Om hierdie rede moet ons alle dinge eers aan die Bybel toets voordat ons daaraan deelneem.

Leef op só ’n manier dat mense nie negatiewe dinge van jou Christenskap sal kan sê nie en bid dat die Heilige Gees jou betyds sal waarsku wanneer jy met verkeerde dinge besig is.

Hemelse Vader, wys asseblief vir my hoe om te leef en vir watter mense ek op my hoede moet wees. Ek loof U dat U altyd u kinders uit swaarkry sal red. Amen.

Bron:
Geskenk van genade deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dries ·

Daar is ongelukkig vandag alhoemeer valse profete, selfs binne die kerk. Enigeen wat nie glo dat Jesus as mens aarde toegekom het nie en nie glo dat Hy vir ons sondes aan die kruis betaal het en letterrlik! opgestaan het uit die dood nie is op ‘n dwaalweg weg van GOD af. Jesus is waarlik mens en tegelykertyd GOD.

Janine ·

Ek het nou net die skrikwekkendste video op facebook gesien. ‘n Klomp swanger Afrikaner mans wat die ramshorings blaas vir die Joodse fees van trompette. Hulle sê goed soos “sieg heil” op die kommentare en leer dat kerkleraars en Christene die blaam moet kry vir die stand van sake in SA. Ek het nog nooit so ‘n geestelike verwarde nasie gesien nie!. So geskok.

Director Krennic ·

Dít is wat met breins gebeur wat op godsdiens grootgemaak is.

“Wees ‘n stem. Nie ‘n echo”.

Eish ·

Oppas, o ja, oppas!
Soveel denominasies, soveel tradisie.
Soveel dwaling.

Director Krennick ·

Die grootste dwaalleer is sekerlik om blindelings te “glo” sonder selfondersoek en ontleding na die inhoud van dit wat geglo word. Dit is die oorsprong van alle dwaalleer en dit vier hoogty. Daar is heelwat aspekte van die Pauliaanse Lering wat hier gerieflikheidshalswe uitgelaat word. Paulus is gebore in Tarsus, ‘n sentrum van Pagan Raaisels. Hy noem homself selfs die toesighouer van die ‘Raaisels van God’, ‘n titel gekoppel aan ‘n priester in die Raaisels van Serapis. Paulus haal Pagan stellings aan in al sy werke en verkondig Pagan leringe. Paulus leer dat die Opstanding ‘n mistieke proses is, nie ligaamlik/fisies nie. Hy leer die Beginsel dat Jesus nie die aarde self bewandel het nie maar dat dit ‘n mistieke openbaring binne in jou is (Kol 1:25-28). Paulus het altyd leringe op twee vlakke aangebied: uiterlik/’letterlik’ en innerlik/mistiek (“oog” en “hart” leringe – 1 Kor 2:9). Paulus is gefrustreerd met sy volgelinge want hul is nie geestelik gereed om “elementêre” christelike beginsels af te leer en na dieper vlakke van Kennis te beweeg nie (Heb 5:11-14).

Om Paulus dus mis te verstaan is alreeds ‘n dwaalleer – en daarmee val die hele westerse kerkwêreld dus in – almal is in ‘n dwaal want baie min besef wat die Pauliaanse Leringe nou eintlik omskryf: Kennis en Wysheid is sy stapel, nie blindelingse navolging van “geloof” nie.

Director Krennic ·

Hierbo het ek maar slegs jou eie Bybel gebruik as verwysing. Daar is ander verse ook…

Daar is egter ‘n ton akademiese vakliteratuur rakende die Pauliaanse Leringe en hul verwysingsraamwerk. Pagels se werk is ‘n goeie beginpunt vir die onderwerp. S. Brandon se werk ‘Religion in Ancient History’ (1969) is ook goed aanvullend. Godwin se ‘Mystery religions in the Ancient World’ (1981) is verpligte leesstof vir enige ernstige navorser oor die oorsprong van die christen kultus beweging – een wat in kompetisiie was met veelvuldige ander wat in die destydse Romeinse Ryk tevinde was. Destyds is idees oor en weer met mekaar uitgeruil en wêreldbeskouiings is so aangevul met kennis wat regoor die antieke wêreld binne in die Ryk ingesypel het…

Punt is, dit wat vandag goedsmoeds “geglo” word as “waarheid” sonder enige voorbehoud is allermins dieselfde inhoudelikheid as waarmee dit begin het. So ‘n gebrek aan vooraf ondersoek met geen voorbehoud is gevaarlike en was ongeken in die Antieke Wêreld. Die dwaalleer se vernaamste doelwit is juis om alle ander kompeterende idees uit te wis (want dit voel bedreig) sodat net sy “stem” gehoor kan word….

Veritas ·

God het Paulus, wat Sy kinders vervolg het, met blindheid geslaan en hom toe gebruik om Sy evangelie te verkondig. Het God dan, in jou oë, ‘n fout begaan of dink jy Paulus was net te slim vir God? Moet asb nie met joú dwaalleringe probeer om God se kinders te mislei nie.

Chris ·

Veritas, ek stem saam met jou. Ek het al menigte “mense met kennis” raakgeloop wat die grootste klomp snert oor die Bybel soos wat ek lees en verstaan kwytraak. Hulle praat or dwaalleringe en verkleineer Bybelse figure en beskuldig hulle van allerlei oortredings. Ek het nie die nuutste vertaling van die Bybel nie, maar jou by die een wat ek het. Ek weet net, en het dit ook al teegekom dat die mense my soos pes vermy. Ek was nou die dag hier in ‘n winkelsentrum waar ‘n man met ‘n stress meter gesit het. My vrou is ‘n streshaas. Ek gaan sit toe en die man plaas ‘n silwer buise in elke hand. Hy vroetel toe met die meter. Hy sê toe vir my die meter sê vir hom ek is nie ‘n persoon wat stres nie. Hy wil toe ‘n DVD ter waarde van aan my afsmeer om “rustiness” te lewe. Ek antwoord toe ek hoef nie want my vetroue in ons Hemelse Vader is van so aard dat ek nie hoef te stres nie. Die persoon wat die video gemaak en die boek geskryf het was ‘n ene Ron L Hubbard die stigter van die Scientology Beweging. Die satan is oral bedrywig en fluks aan die arbei, self in die “kerk”.

Jaco Weber ·

Swaarmoedig, veroordelend, waarskuwend, so vaag dat niemand iets konkreet kan uitmaak nie, alles is sonde, ALLES is sonde, moet tog net nie iets bevraagteken of bespreek nie, glo net blindweg alhoewel dit nie mooi omskryf kan word wat dit is waaraan jy jou sinnelose dogma hang nie, pasop pasop , ALLES is sonde veral enigiets vaagweg seksueel. Tipiese trant van godsdiens gesprek. Dit begin met waarskuwing teen dwaalleraars en van daar af gaan dit net downhill. Veroordeel my nou in 100 antwoorde en dan loop bid julle. VIR JULLE SELF. Ek’s OK, vir my is dit sonde om my geloof in God soos ‘n albatros om my nek deur die lewe te sleep. Ek’s ‘n blymoedige Christen, ek geniet die wete dat God na my omsien en vermy die dwaalleraars wat waarskuwing teen alles en heeltyd vertel hoe ons tog net nie moet vergeet dat ALLES sonde is nie.

Veritas ·

Jaco, ek kon dit nie beter stel nie. As jy, as Christen, blymoedig in Sy pad wandel, hoekom ongelukkig daaroor wees ? ‘n Christen is gelukkig in dié dat die Heilige Gees, hom/haar waarsku wanneer hy/sy besig is om die pad byster te raak. Om die duiwel agter elke bossie of klip te soek, maak van Christenskap ‘n las. Iets wat dit gladnie moet wees nie.

ha-ha ·

Ja nee soos die menslike wette wat gemaak word in die kerk en dan moet ek nog die geldjie ook ingooi,aansoek doen om nagmaal te gebruik as ek in n ander gemeente kuier hoe dom is ons eintlik om te dink dat dit belangrikker is as die waarheid wat van ons weerhou word

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.