Gedagte vir die dag: Oppas wat jy sê

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

Lees: Spreuke 4:23; 18:21

Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe. Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra. (Spreuke 4:23; 18:21)

Wat “hoor” jou vriende wanneer jy met hulle gesels? Is jy gedurig besig om jou ontevredenheid met alles en almal die wêreld in te stuur? Dink ’n bietjie na oor jou gesprekke van die afgelope week. Kom jou tevredenheid of jou ontevredenheid die sterkste na vore? Ek moet tot my skaamte erken dat ek baie meer in my eie gesprekke fokus op al die dinge in ons land waarmee ek ontevrede is. Dit is my voorneme om voortaan baie meer positief ingestel te wees, al is daar nog baie dinge wat beslis nie my goedkeuring wegdra nie. Wil jy nie by my aansluit en besluit om in die vervolg eerder op tevredenheid en dankbaarheid te fokus en mense om jou van God se goedheid en genade vir jou te vertel nie?

“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor,” sê Jesus in Matteus 12:34. Wat in jou hart leef, kom na vore in jou woorde. En jou woorde het ’n geweldige impak op jouself sowel as op ander mense. Die dinge wat jy sê (en nie sê nie), wys vir ander wie jy is en wat in jou gedagtewêreld aangaan en hulle kom ook jou gevoelens agter deur die dinge wat jy sê. Maak Dawid se gebed in Psalm 19:15 jou eie: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.”

Here, vergewe my dat my ontevredenheid so dikwels tot uiting kom in my woorde. Leer my om my woorde te tel en ’n wag voor my mond te plaas. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Elgeraine ·

Baie waar! Mens is geneig om die kleinste seening as vanselfsprekend te aanvaar. Dankie vir die dankbare gevoel in my hart Here!

neelsie ·

Onthou!
Ek is nie die ‘skarnier’ waarom die wereld draai nie.
Wat sal my nalatingskap wees?

Roela ·

Here plaas asb n wag voor my mond en leer my om eerder stil te bly as om uitting te gee aan hoe EK voel. Dit bring net meer ongelukkigheid wat onnodig is. Here leer my om altyd ander se gevoelens eerste te stel en nie my gevoel nie. Dankie Here leer my soos Joyce Meyer ook se dit is altyd WHAT ABOUT ME. Leer my om verwerping, vernedering en seerkry te leer verwerk dan sal ek dalk besef dat ek sekere dinge moet aanvaar en leer om stil te bly want maak nie saak wat ek se nie ek gaan dit net vererger. Abba Vader ek plaas my in U hande maak asb n nuwe mens van my soos net die pottebakker uit sy slegste klei kan voortbring. AMEN

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.