Gedagte vir die dag: Opreg

 hand-strand-hart-congerdesign.jpg

Foto: congerdesign/pixabay.com

Die doel van my opdrag is dat al die Christene daar vervul sal wees met liefde wat uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en opregte geloof kom. (1 Timoteus 1:5)

Salomo is in die kol as hy skryf dat ons veral versigtig moet wees met wat in ons hart aangaan, want dit bepaal alles wat ons doen (Spr. 4:23). Die hart is die bron van ons gedagtes, wil en emosies en daarom is dit nie net fisies ’n lewensnoodsaaklike orgaan nie, maar ook die hoofkwartier van ons geestelike lewens. As ons dit nie toegewyd beskerm nie, gaan dit ons Christelike groei belemmer en ons getuienis in gedrang bring.

Dit is nutteloos vir ’n Christen om op die vrug te fokus, bekommerd te wees oor eksterne gedrag en tydelike oplossings te vind. God gaan altyd na die hart, en tensy ons ook daar begin, sal ons geen werklike verandering in ons lewens sien nie. Wanneer ons uit onsself probeer, sal ons per toeval oplossings vind, maar dit sal oppervlakkig en tydelik wees en ons entoesiasme sal vinnig taan.

As kinders van geloof, gewas deur die kosbare bloed van die Lam, moet ons opsy staan en toelaat dat die Heilige Gees ons motiewe en gewetes reinig. Eers dan sal ons oorloop in opregte liefde vir God en ander, ons denke sal volwasse wees en ons voornemens bo verdenking.

Here, reinig my hart, sodat ek met ’n skoon gewete kan leef, bid en liefhê; my fokus onverdeeld op U. In ’n wêreld waar die oppervlakkige die norm is, wil ek opreg wees, my motiewe eerlik en my geloof suiwer en gesond. Amen

Bron: In vreugde en vertroue deur Suria Scholtz
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FM ·

Amen

Die mense oor die hele aarde sukkel met ‘n hart wat nie op God gerig is nie.
Ons hoor en lees daagliks van gruwelike dade teenoor kinders wat spruit uit ‘n hart wat gruwels bedink.
Kom ons buig in gebed, volhardend in geloof, voor God se troon.

Here wees ons genadig. Amen

Pannies ·

Dit is baie moeilik om in n wêreld waar daar daagliks soveel gruweldade plaasvind, nog al jou naaste lief te hê soos jouself. Ek dink meeste van ons dop daardie toets. Die geheim is om die daad te veroordeel en nie die mens wat dit gepleeg het nie. Bid vir sy redding. Baie moeilik. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.