Gedagte vir die dag: Opregte liefde

harte_vorm_klippies_strand_stilltetyd.jpg

Foto: fineartamerica.com

Die liefde moet opreg wees. Verafsku wat sleg is en hou vas aan wat goed is. (Rom 12:9)

Lees Rom 12:9-21

In hierdie Skrifgedeelte gee Paulus praktiese raad oor hoe gelowiges op God se liefde moet antwoord. Dis asof Paulus wil sê: só moet julle liefhê! ’n Lewe van praktiese offervaardigheid begin by die regte gesindheid. Dit gaan hier oor opregte, eerlike, onselfsugtige liefde. Sodra liefde oor eiebelang en self bevoordeling gaan, is dit nie meer opregte liefde nie. Dan word dit liefde met ’n agenda. Opregte liefde is ’n liefde ten spyte van ander mense se tekortkominge en soms ten koste van jou eie gerief en voordeel. Daarom moet jy kies teen die slegte dinge, die dinge wat in stryd met God se wil is. Daar is ’n eerste linie van mense wat jy moet liefhê, naamlik jou broers en susters in die geloof. Betoon heel eerste teenoor hulle hartlike broederliefde sodat julle saam kan handevat in julle liefde vir die wêreld.

Paulus roep gelowiges op om toegewyd te lewe. Onthou dat jy nie vir jouself lewe nie, maar dat jy jou lewe aan God toegewy het. Dien die Here met geesdrif. Vir ’n Christen beteken geesdrif om deur die krag van die Heilige Gees gedryf te word. Leef dus ’n Geesvervulde lewe.

En dan moet jou opregte liefde in opregte verhoudinge sigbaar word. Help jou medegelowiges, wees gasvry, wees bly saam met dié wat bly is, en treur saam met dié wat treur, seën jou vervolgers, wees eensgesind, goedgesind en nederig. Wees ’n vredemaker en wees goed vir jou vyande.

Dis ’n mondvol! Maar dit is hoe opregte liefde in die praktyk lyk.

Toets jou liefde aan hierdie model. Is daar ruimte vir verbetering?

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.