Gedagte vir die dag: Orde in die huis

pa_seun_gesels_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Pa’s, moenie julle kinders so behandel dat hulle verbitterd word nie, maar voed hulle op met dissipline en teregwysing wat die Here se goedkeuring wegdra. (Efesiërs 6:4)

God is baie duidelik oor die belangrikheid van orde in die huis. Mans, ons moet ons vroue net so liefhê as wat Christus die kerk liefhet. Indien nodig, moet ons gereed wees om ons lewe neer te lê vir ons gesinne. Wanneer ons ons vroue begin eer en liefhê soos wat Christus die kerk liefhet, sal ons ’n ander gees in die huis sien.

Die liefde waarvan ons praat, gaan daaroor om kos op die tafel te sit, die kinders te dissiplineer en om die moue op te rol, in te spring en ons vroue te help. Maak seker almal weet dat jou vrou vir jou die belangrikste persoon in die wêreld is. Ek ken nie ’n vrou wat ’n probleem daarmee sal hê om haar aan haar man te onderwerp as hy bereid is om sy lewe vir haar en die kinders te gee, kos op die tafel te sit, die kinders op te voed en haar te beskerm nie. Probleme steek egter kop uit wanneer mans hulle verantwoordelikheid nie nakom nie.

Kinders moet hul ouers gehoorsaam. Dit is immers die vyfde gebod. Interessant genoeg is dit ook die eerste gebod waaraan daar ’n belofte gekoppel is (Eksodus 20:12). Dit sê dat ons ons ouers met respek moet behandel. Dan sal ons lank en gelukkig lewe in die land wat die Here ons gegee het. Ouers moet ophou om hul kinders te antagoniseer en hulle begin ondersteun. Sodra ’n pa sy kinders begin bemoedig, begin daardie kinders blom. Ons moet versigtig wees wat ons sê. Ons woorde kan lewe of dood vir kinders beteken en kan hulle bybly vir die res van hul lewe. Ek kan onthou hoe ons laerskoolhoof vir my ma gesê het om my uit die skool te haal omdat ek nooit opgang in die lewe sal maak nie. Dit was ’n uitspraak wat jare lank ’n invloed op my gehad het. Kom ons doen moeite om seker te maak dat daar dissipline en orde in ons huise is, maar dat dit ook vol liefde is.

Dierbare Jesus, ek weet dat dissipline nie lekker is nie, maar broodnodig. Help my asseblief om my kant te bring en seker te maak dat daar orde in ons huis is soos wat u Woord bepaal. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.