Gedagte vir die dag: Ouers en kinders

familie.jpg

Argieffoto

Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo. (Kolossense 3:20)

Paulus gee praktiese raad vir gesinne en pleit vir harmonie in die huis. Die vrou word wel aangesê om onderdanig te wees aan haar man, maar die man moet sy vrou versorg en liefhê soos sy eie lewe. Kinders word aangemoedig om hul ouers in alles gehoorsaam te wees, maar terselfdertyd waarsku hy vaders om nie onredelik te wees en altyd fout te soek nie.

In die eerste plek is dit ouers se plig om hul kinders volgens Christelike beginsels op te voed en om ’n voorbeeld te stel. Kinders is groot na-apers en sal nie net goeie gewoontes naboots nie, maar ongelukkig ook slegtes. Wees altyd eerlik en erken dat jy ook foute maak. Gesels en deel met mekaar wat julle vandag gesien en ervaar het. Sê vir hulle dat jy ook vir jou oortredings moet boet as die verkeerskonstabel jou byvoorbeeld voorkeer en ’n spoedkaartjie uitreik. Leer hulle om die gevolge van hul dade te dra as die onderwyser straf uitdeel. Moenie die skuld op die verkeerskonstabel of op die onderwyser pak nie.

Hou huisgodsdiens. Maak tyd om as gesin saam Bybel te lees en te bid. Gee kans vir vrae en bespreek die onderwerp eerlik. Gaan saam kerk toe en maak dit ’n aangename ondervinding – nie ’n gejaag wat in die motor op ʼn bakleiery uitloop nie. Maar moenie jou kind dwing om te vroom te wees nie. God het ’n sin vir humor en Jesus was só lief vir kindertjies dat Hy met hulle gespeel het.

Dink aan jou doopbelofte. Die beste plek vir ’n kind om van Jesus te leer, is in die huis, maar dan moet sy ouers ook kinders van God wees en Jesus met hul hele lewe dien en aanbid.

Here Jesus, ons kinders is kosbaar. U het self gesê die koninkryk is vir mense soos hulle. Help ons om hulle na selfstandigheid te lei.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.