Gedagte vir die dag: Volg die pad wat God aanwys

Lighuis_sonsopkoms_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Die Here bepaal ’n mens se lewe. Hoe kan ’n mens verstaan wat met hom moet gebeur? (Spreuke 20:24)

Ek wil hê jy moet die punt bereik waar jy nie langer die onbekendheid van die lewe vrees nie. Ek wil hê jy moet net op my wil vertrou en daarin rus vind. As jy ten alle tye naby aan My leef, kan jy met vertroue weet dat Ek jou nie sal toelaat om van die pad af te dwaal wat Ek vir jou gekies het nie. Ek het ongelooflike planne vir jou, maar Ek wil hê jy moet leer om My volkome te vertrou met elke tree wat jy in die geloof neem.

Ek wil hê jy moet ophou om jou eie lewe te beheer en jou oorgee aan my planne en staatmaak op my krag om dit te laat gebeur. Ek wil hê jy moet jou eenvoudig oorgee en My toelaat om in en deur jou te werk. Ek wil nie hê jy moet sukkel om my weë te probeer verstaan nie; Ek wil hê jy moet doodeenvoudig daarop vertrou. My weë is volmaak. Aanvaar wat jy nie kan verander nie en vertrou My om te doen wat onmoontlik lyk, want niks is vir My te moeilik nie. Weet ook dat niks uitmekaar sal val as jy dit eenvoudig oorlaat in my hande nie. Wanneer jou lewe uitmekaarval, val dit eintlik in plek. Ek belowe om jou sterk te maak en jou staande te hou. Al wat Ek vra, is dat jy my wil sal soek, jou vrese sal laat gaan en in die geloof die pad sal loop wat Ek vir jou gekies het.

Bron:
God fluister jou naam deur Cherie Hill
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SNEL ·

Elke dag se stukkies word geskryf asof God praat. Daar is n verskil om n teksvers te verduidelik of om jou mening te gee oor wat jy verstaan van die vers/ gedeelte of weergee wat jy glo die Here van mens verwag deur daardie teksvers of die les wat daaruit geleer kan word; en om sommer blatand in God se skoene te wil klim en uit Sy mond namens Hom te praat met die mense….dit laat my bietjie wonder. Sal God dit goedkeur dat iemand Hom sommer so aanhaal en maak of Hy dit nou woord vir woord gesê het, al kom dit ooreen met wat Hy sou dink/voel/sê. Ek twyfel. God praat slegs uit Sy Woord en in jou hart deur Sy Heilige Gees. Daar is n verskil tussen aanhaling en wat hierbo geskryf word. Dis nou n nuwe ding wat al hoe meer kop uitsteek. Ek wonder ook hoe moet iemand voel om hulle in daai Goddelike posisie te moet sit om uit daai perspektief te moet skryf. Dis vreeslik, laat my maag sommer draai. Ek kan ook nie hierdie goed lees nie, want sodra ek begin tref die realiteit my dis n mens wat dit geskryf het en nie God se eie woorde nie. In my oë is dit nie reg nie. Al sing iemand soete woorde, meet allas aan God se Woord en laat die Heilige Gees ons lei.

Soekie ·

Goeie more SNEL – Ek gaan tans deur ‘n geweldige moeilike tyd en elke dag op pad werk toe bid ek vir ‘n boodskap/antwoord. Wanneer ek die Gedagte vir die dag lees, kry ek soveel antwoorde op my vrae. Daar is mense vir wie dit geweldig baie beteken en dis ‘n manier hoe die Here met ons praat en vrae antwoord.

Jacques ·

Is dit nie maar presies wat in die Bybel gebeur nie? Mense wat God se Woorde weergee. Juis waarom die Evangelies so van mekaar verskil. Geen mens is volmaak genoeg om namens God te praat nie. Selfs predikante doen dit. Dit word aan elke persoon, met die leiding van die Heilige Gees, oorgelaat om te onderskei tussen wat wel van God af kom en wat die skrywer se eie opinie is.

Amanda ·

Baie dankie vir hierdie oggendoordenkings … Dit maak my dag! Ek glo die persoon wat dit skryf word absoluut deur die Heilige Gees gelei om die betrokke stukkie in die Bybel te verduidelik.

Annalies Oosthuizen ·

Die mooiste belofte om aan vas te hou. Dankie Heer. Amen

Naamloos ·

Ek het nodig om sulke boodskappe te hoor, want ek is op n punt waar ek na God se plan vir my lewe soek. Vir my lyk en voel alles onmootlik en die sommetjies werk nie uit nie. Boodskappe soos die, gee my darem moed vir nog n dag. Ek glo dat mense party dinge sê met die doel dat ander dit MOET hoor. Indien die boodskap vals is, moet die een wat dit gee, rekenskap aanvaar.
Dit het al gebeur dat iemand my kontak en sê dat hulle voel hulle vir my iets moet sê. Dit was dan werklik so en dit het die verskil gemaak. Laat die wat ore het, hoor! In vandag se tye praat God nie meer so hard as in die Bybel se tye nie. Ek ervaar dat Hy BAIE sag fluister in jou oor en dat dit inspanning vat om te luister.
Die dagstukkies beteken baie!

Jan ·

Ek het simpatie met Snel se beskouing.
Ek stem saam dat die persoon praat asof dit God is wat met ons praat.
As ek egter kyk na sy intensies dink ek dis baie goed. Hy vervat verskeie dele in die Bybel saam om n boodskap te bring. Is dit nie maar wat ons dominees doen nie.
Kom ons kyk na die boodskap en kyl verby die skryfstyl.
Dankie vir elke dag se boodskap. Ek glo jy gee aan baie mense weer moed vir die dag.

Genieve Moses ·

God moet deur sy Gees met ons praat.Sy woord se blus die Gees nie uit nie.Wanneer die Gees met ons praat moet ons kan onderskei en n oor het om te luister,want ek glo die Gees bring lewe in jou menswese.Ek is altyd dankbaar teenoor die Gees van die Here want hy lei ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.