Passiespel ‘grootste gemeenskapsteaterprojek nog’

Die Afrikaanse sanger Jacobus Silwer is eersdaags weer in Bloemfontein op die planke te sien in die derde jaarlikse Passiespel.

Die vertoning heet Jesus – Die Passiespel en sal op 23 en 24 Maart in die Sand du Plessis-teater plaasvind.

Volgens Silwer is Jesus – die Passiespel die grootste gemeenskapsteaterprojek van sy soort in Suid-Afrika met meer as 100 mense uit die gemeenskap van Bloemfontein wat deelneem op die verhoog.

Hy vertel dié passiespel is die finale aflewering van ʼn trilogie. In 2016 het hy in samewerking met skrywer Gertjan Holtzhausen, die eerste van die drie, Pilatus – ʼn Kruis in die pad, opgevoer. Die toneelstuk is vertel uit die oogpunt en verwysingsraamwerk van Pontius Pilatus.

In 2017 het die tweede verhoogstuk, Judas – Wat is die prys van bloedgeld? verskyn. Silwer was weer as akteur en sanger deel van dié vertoning, maar vertel hy is ook genader om die musiek en lirieke vir die blyspel te skryf.

“Wat ‘n uitdaging!” het Silwer gesê. “Ons was verras dat die eerste twee blyspele uitverkoopte gehore gelok het en het daarom besluit om vanjaar ʼn derde Passiespel te skep om as finale vir die trilogie te dien.”

Vanjaar is die Vrystaatse Jeugorkes, onder leiding van Alexander Fokkens, ingespan om die klankbaan te speel en hierdie keer neem dit meer ‘n Griekse teater-vorm aan.

“Ek is weereens gevra om al die musiek en lirieke te skryf, met Eraneé De Beer en Jaco Bezuidenhout aan die stuur van die orkestrale verwerkings,” het Silwer vertel. “Musiek in die Griekse teaterstyl was uitdagend, omdat alle tradisionele idees van liedjieskryf verander. Daar is byvoorbeeld ‘n hele rits verskillende melodieë in een toneel met verskillende karakters wat in sang met mekaar kommunikeer. Dan is daar boonop ‘n hele gemeenskapskoor wat elke dan-en-wan repliek lewer op al die gebeure wat weer heeltemal anders benader moes word in terme van musikale styl en verwerking.”

Volgens Silwer is die kern van Jesus – Die Passiespel ʼn verhaal van redding wat deur die gemeenskap van Bloemfontein realiseer is.

Gertjan Holtzhausen het die teks geskryf en die regie is deur dr. Niel Van Niekerk behartig.

“Ons spog met ‘n ATKV-eretoekenning vir Pilatus – ‘n Kruis in die pad en ons hoop vir sommer nog baie. Bloemfontein se kuns kook! Ons is ongelooflik trots en dankbaar,” het Silwer gesê.

Kaartjies kos tussen R80 en R95 en is beskikbaar by PACOFS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.