Gedagte vir die dag: Paulus – en ons – getuienisroeping

bybel.jpg

Argieffoto

Lees: Romeine 1:1-17

Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ’n krag van God tot redding van elkeen wat glo. In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek omdat hulle glo. (Romeine 1:16-17)

Paulus begin sy Romeinebrief deur hom bekend te stel as “ʼn dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God” (Romeine 1:1). Hy wy sy hele lewe daaraan om die goeie nuus van God se liefde te verkondig aan dié mense wat dit nog nie voor heen gehoor het nie. Hy vertel die gemeente in Rome van Wie hy hierdie opdrag gekry het: Van Jesus wat as mens gebore is, uit die dood opgestaan en deur die Heilige Gees as God se Seun aan gewys is. Hy gee ook ’n gloeiende getuienis oor die evangelie wat hy uitdra: Dit is ʼn krag van God, die enigste manier om verlossing van sondes te ontvang. En die enigste manier hoe ons dit kan verkry, is deur geloof in Jesus, God se Seun wat dit vir ons verdien het deur self die straf vir ons sonde aan die kruis te dra.

Jy het heel waarskynlik grootgeword met hierdie evangelieboodskap. Jy is dus ook ’n gestuurde, iemand wat die evangelie moet verkondig. Is jy nog te skaam om dit uit te dra, of kry jy dit al soos Paulus reg om ’n apostel, dit wil sê ’n gestuurde van God self te wees om die goeie nuus van God se liefde aan almal deur te gee?

Here, vergewe my dat ek nie passievol genoeg is om die goeie nuus van u liefde aan mense oor te dra nie. Maak my soos Paulus bereid om die wonder van die evangelie aan ander deur te gee. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

E ·

Daar is slegs 1 weg tot God en dit is deur Jesus. Die wêreld sal vergaan maar God se woord bly staan tot in alle ewigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.