Gedagte vir die dag: Paulus en Silas in die tronk

Stiltetyd-13.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. (Handelinge 16:25)

Vir Paulus en Silas het dié dag nie goed verloop nie. Vroeg die oggend het Paulus ʼn waarsêersgees laat les opsê. Maar die vrou se werkgewers was woedend omdat hulle inkomste daarmee heen was. Paulus en Silas is toe voor die stadsbestuur gesleep en as moeilikheidmakers veroordeel. Hulle is gegesel en in die tronk gegooi. Hulle is as gevaarlike misdadigers behandel. Die sekuriteit is opgeskerp. En daar sit die twee onskuldige dienaars van die Here met geselwonde aan die lyf en voete in blokke in die tronk. Moedeloos? Kwaad? Selfbejammerend? Nee! Teen middernag begin hulle sing tot eer van die Here!

Twee vrae: Wat het hulle daartoe gedryf om lofliedere te sing en wat was die gevolg daarvan? Op die eerste vraag is daar net een antwoord: hulle onwrikbare geloof en liefde vir die Here. Hulle het verstaan wat dit beteken dat niks hulle van die liefde van God kan skei nie. En die antwoord op die tweede vraag: ’n Godswonder! Die Here laat hulle op ’n wonderbaarlike manier vrykom, en deur hulle getuienis kom ’n huisgesin tot bekering.

Sing tot eer van die Here as jy swaarkry, en sien hoe dit mense se lewens verander.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.