Paulus en Timoteus – Christene wat eenders dink

Ek hoop om, as die Here Jesus wil, Timoteus gou na julle toe te stuur, sodat ek ook rus in my gemoed kan hê as ek gehoor het hoe dit met julle gaan. Ek het trouens niemand met dieselfde gesindheid as hy en wat julle belange so opreg sal behartig nie. Al die ander soek net hulle eie belange, nie dié van Jesus Christus nie. Maar julle weet hoe betroubaar Timoteus is. Soos ‘n kind saam met sy vader, het hy saam met my die saak van die evangelie gedien. Filippense 2:19-22

Die afgelope aantal weke het ons ook ‘n paar van die apostel Paulus se vriende ontmoet. Daar was Barnabas van wie hy verskil het, maar vir wie hy steeds lief was en gerespekteer het. Dan was daar Akwila en Priscilla, ‘n godvresende paartjie wat saam met hom tente gemaak het en die evangelie uitgedra het. En dan, natuurlik, was daar Timoteus.

Paulus het Timoteus vir die bediening opgelei. Ons lees dat hulle dieselfde gesindheid gehad het, dat hulle het saam die saak van die evangelie gedien het. Daar was niemand anders wat Paulus genoeg vertrou het om na die gemeente in Filippi te stuur nie. Paulus het geweet dat hy nie bekommerd hoef te wees dat Timoteus hom sal weerspreek nie. Hy het geweet dat Timoteus nie sy werk onder die gelowiges in Filippi sou ondermyn nie. Hy en Timoteus het eenders oor sake gedink. Hulle passie vir Christus was dieselfde en onder Tmoteus sou die Filippense in goeie sorg wees.

Timoteus was een van Paulus se belangrikste medewerkers. Vir jare was die twee vriende onafskeidbaar en hierdie verbintenis het ook hulle bediening bevorder. Timoteus was Paulus se vertroueling en in die aanhef van ses van Paulus se briewe word Timoteus ook vermeld. Wanneer die Here vriende op so ‘n geestelike vlak verenig, het Hy iets groter in gedagte as net dit wat tot voordeel van die twee vriende is.

Gebed: Here, U het gesê dat waar twee of drie in u Naam vergader, daar is U ook teenwoordig. Ek bid dat U my vriendskappe en vriendskappe regoor die wêreld, tot uitbreiding van u koninkryk sal gebruik. Amen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.