Lees Psalm 124
Ons hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het. (Psalm 124:8)
’n Tipiese pelgrimslied dié: “As die Here ons nie gehelp het nie … dan het die waters ons weggespoel …” (v. 1, 4).
Hier is volop rede om te sing, juis wanneer ons baie is. Wanneer ons ’n lof- en danklied soos hierdie een sommerso, terwyl ons loop, kan uitjubel.
Gelowiges sing lekker as hulle saamsing. Dit sorg vir ’n mooi, vol klank. ’n Groot genoeg geluid langs die pelgrimsroete wat die roofdiere – ook dié met twee bene – die hasepad laat kies. Buiten- dien, wanneer jy ’n oorwinningslied sing, stoot jy jou bors uit en lig jy jou kop. “Ons is bevry …!” (v. 7) word nie geneurie nie. “Aan die Here kom die lof toe …” (v. 6) word nie gefluister nie.
’n Pelgrimslied is ook ’n lewenslied; dit is altyd gepas. Hedendaagse Bybellesers kan mos ’n eenvoudige verband lê tussen die Here se beskerming destyds en sy ontferming vandag. Indertyd se “skuimende waters” (v. 5) het ’n parallel in elke storm wat gelowiges deur die eeue moes trotseer. Die voëlvangers lyk deesdae dalk anders en hul wippe is straks meer modern, maar sulke ellendelinge en hul verraderlikhede sal klaarblyklik altyd met ons wees (vgl. v. 7).
Verlossing, vryheid, was van meet af aan soet. Iets om oor te sing op die pelgrimspad. En hoe wonderlik om deel van ’n “ons” te kan wees, ’n stem in ’n koor te mag hê. Om tuis te kan wees op ’n plek waar almal jou naam ken, waar hulle bly is dat jy deel van hulle is. Waarlik, ons hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het. Én van familie en vriende en susters en broers: medepelgrims.
Dankie, Here, vir my plek, vir my mense. Vir die warmte van tuis wees.
Dankie Here vir elke belofte en dat U self vir ons n ewige huis berei het…Amen